KAROO NUUS - Die onlangse honde-aanvalle op die varke en bokke van die Farming is Life en die Baviaans Land and Agrarian Reform Forum (BLARF) kleinboere groepe het ernstige vrae oor die afwesigheid van ‘n staatsveearts in die Dr Beyers Naudé munisipale area laat ontstaan.
Die eerste van hierdie aanvalle het vermoedelik laat die aand by die Farming is Life varkhokke in Kroonvale, Graaff- Reinet plaasgevind toe twee Amerikaans veghonde (pit bulls) een vark doodgebyt en twee ander beseer het.
Die twee honde was steeds in die varkhok toe die kleinboere die volgende oggend daar aankom.
Die daaropvolgende Donderdagoggend het die kleinboere ontdek dat dieselfde honde weer die vorige aand by die varkhokke was en nog ‘n vark aangeval en noodlottig beseer het.
Die derde honde-aanval het verlede week in Willowmore plaasgevind toe ‘n hond twee varke en twee bokke van die BLARF-kleinboere op die meentgrond doodgebyt het.
Graaff-Reinet Animal Welfare Society (Graws)
Carlin Raath, bestuurder van Graws vertel dat die Farming is Life-kleinboere by die dierebeskermingsvereniging om hulp aangeklop het, maar dat Graws se primêre doel is om in te tree wanneer diere deur mense mishandel word en nie wanneer diere mekaar aanval nie.
Raath het wel opgetree en die eienaar van die honde vermaan om sy honde vas te maak en te sorg dat hulle voldoende oefening kry, sy het ook die eienaar gewaarsku dat Graws verplig sal wees om die honde te konfiskeer indien so iets weer sou gebeur.
Omdat die kleinboere nie geld vir veeartsbehandeling gehad het nie, het Raath aangebied om die twee beseerde varke te laat uitsit, maar die kleinboere het besluit om hulle eerder te laat slag.
Die Farming is Life-varkhokke in Kroonvale, waar die twee Amerikaanse veghonde (pit bull terriers) die varke aangeval het.
Staatsveearts
Graaff-Reinet Advertiser het vasgestel dat die munisipaliteit in 2020 laas ‘n staatsveearts in diens gehad het. Volgens ‘n betroubare bron wat verwant is aan die departement van landbou was daar twee jaar gelede sprake van ‘n aanstelling, maar daarvan het glo niks gekom nie.
Samantha Graham-Maré, DA LP en Dr Beyers Naudé-kiesafdelingsleier, het in November 2022 vrae hieroor aan die minister van landbou, Thoko Didiza, gerig waarop sy geantwoord het dat dr. Roaul Strydom in 2018 as waarnemende staatsveearts aangestel is. Volgens Didiza is ‘n staatsveearts onder meer verantwoordelik vir veeartsenykundige inspeksies tydens internasionale handel, veeartsenykundige openbare gesondheid, siektebeheer sowel as dierewelsyn.
Strydom het bevestig dat hy aangestel is as waarnemende staatsveearts, maar sê dat hy slegs verantwoordelik is vir veeartsenykundige inspeksies tydens internasionale handel.
Hy is dit eens dat dit geen verskil aan die varke se lot sou gemaak het indien daar wel ‘n volwaardige staatsveearts in diens was nie omdat gevalle van hierdie aard nie deur staatsveeartse hanteer word nie maar na privaat veeartse verwys moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’