GRAAFF-REINET NUUS - Dit wil voorkom asof daar geen einde aan die ellende van inwoners van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit is nie.
Pauline van Zyl, 'n prominente figuur in die Jansenville-gemeenskap, het Graaff-Reinet Advertiser verlede week genader om die dorp se lot te bekla.
Volgens Van Zyl is daar 'n geweldige gebrek aan kommunikasie van die munisipaliteit se kant en val alle klagtes op dowe ore.
Afskeepdorp
"Jansenville is die afskeepdorp van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit. Dit voel asof ons glad nie aan 'n munisipaliteit behoort nie," sê sy.
"Net die hoofstraat word skoongemaak en die dooie bome in die strate waaroor daar al vir meer as 'n jaar gekla word lyk aaklig.
Die beeste en bokke loop in die dorp rond en vreet al wat 'n groenigheidjie is heeltemal af. Vullis word oral gegooi en die stortingsterrein is 'n nagmerrie."
Morsjorse in die dorp word ook vir die vullisprobleem blameer. "Dis 'n skande hoe inwoners tuinafval in vore en ander plekke gooi.
Dan maak Issie Cadle, 'n inwoner van Jansenville wat die dorp al vir die afgelope 12 jaar skoonmaak, maar weer skoon en ry weg. Sy het al hope vullis en tuinafval skoongemaak en weggery," sê Van Zyl.
Deurmekaar boeke
Volgens Van Zyl is die munisipaliteit se boeke ook deurmekaar. "Waterrekeninge vir 'n eiendom wat meer as 'n jaar gelede verkoop is word steeds uitgestuur hoewel hulle al drie keer daarop gewys is," sê sy.
"Die koopprys is betaal en die geld lê by die prokureurs, maar ons kan nie uitklaring by die munisipaliteit kry nie omdat daar nou 'n waterrekening van R220 545,93 is wat eers betaal moet word.
Geen mens weet hoe hierdie bedrag bereken is nie want daar was nooit 'n watermeter op die perseel nie!"
Sy sê die grootste probleem is dat hulle niemand in die hande kry om mee te praat nie.
Verlore begraafplaasregister
Die ergste is dat die begraafplaas se register by die munisipaliteit weggeraak het. Van Zyl sê dit is chaos want nou is daar geen manier om ná 150 jaar te identifiseer wie se grafte waar is nie en word daar ook leë plotte vir grafte gesoek.
"Daar is nog leë plotte so die begraafplaas kan uitgebrei word, maar wie lê waar en hoe om jou plot te eien sonder kaart of register is een groot fiasko," sê sy.
"Wyle David Mgogo, wat vir baie jare by die begraafpaas gewerk het en dit besonder netjies gehou het, het goed geweet waar lê wie en as jy navraag gedoen het na 'n graf het hy jou reguit daarheen geneem.
Hy is ongelukkig nie meer daar nie, so baie grafte sal ongeïdentifiseer bly. 'n Mens kan net hoop die register word opgespoor!"
Van Zyl voeg by dat die Sid Fourie Trust tans 'n beloning van R500 uitloof vir die persoon wat die regte oorspronklike kerkhofregister van Jansenville kan opspoor en terugbring.
"Die munisipale amptenare kan ook nou hulle geld verdien deur te soek daarna want dit is ondenkbaar dat name van 150 jaar se grafte verlore is," sê sy. "Miskien het iemand dit geleen. Mens weet nooit!"
Projek nie voltooi
Nog 'n bron van frustrasie is Kerkstraat se randstene wat drie maande gelede verkeerdelik opgekap is. Hierdie projek is begin, maar nooit voltooi nie. "Die rommel lê nog steeds aan die kant van die straat sonder enige hoop dat dit weggery word," sê Van Zyl moedeloos.
Gevaarlike strate
Die strate is oor die algemeen ook nie meer wat dit moet wees nie.
"Dit is hartseer dat een van ons inwoners na 10 dae nog steeds so potblou is nadat sy in die straat reg voor die tehuis met haar vierwiel loopraam geval het as gevolg van die swak oppervlak!"
Leonie Mulder, bestuurder van Huis Welverdiend het hierdie insident bevestig en sê dit is nie die eerste keer wat 'n inwoner in die straat voor die tehuis val as gevolg van die swak pad nie.
Geen samewerking
DA-raadslid Mandy Deyzel bevestig dat dit beroerd in Jansenville en Klipplaat gaan. Volgens haar gaan sy uit haar pad om te help waar sy kan, maar haar hande is afgekap omdat daar geen samewerking is nie.
Sy wou egter nie veel meer kommentaar oor die situasie lewer nie. "Wat ek wel kan sê is dat Jansenville en Klipplaat Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se ondergang is," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’