GRAAFF-REINET NUUS - Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is saamgestel en verpak om in alle kunsvorms en genres, vermaak vir alle ouderdomme in te sluit.
Daar is iets vir almal.
So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat vanjaar van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied word.
“KKNK 2025 se veldtog is gebou rondom 'al die ietse' en die program bied juis dít: al die ietse by een fees en op een plek, met opwindende werke vir die eerste keer op die verhoog, asook ’n keur van hoogtepunte uit bestaande produksies.
"Nie net kan gehore bekende gunstelinge sien nie, maar ook nuwe talent.”
Nuwe idees
Theart sê gewilde aspekte van die KKNK bly behoue, maar nuwe konsepte en idees word ook getoets.
"Skedulering van die teaterprogram is gedoen om gehore volstoom van die eerste dag tot die laaste aand te vermaak.
"Die feesmark bars uit sy nate met ’n dag- en aandverhoog waar gesinne van vroeg tot laat kan kuier.
"Ons nooi almal uit om in die April-skool- en universiteitsvakansie iets spesiaal in die hartjie van die beeldskone Klein Karoo te ervaar.”
Opelugkonserte
’n Spesiale opelugkonsert en aandmark in die feesmark skop verrigtinge af op Maandag 31 Maart, met ’n simfonieorkes onder leiding van die befaamde Richard Cock en spesiale gaskunstenaars.
Nataniël sluit die fees op 6 April af met ’n skouspelagtige opelugkonsert, Duif.
Vier kunstenaars word vereer vir hulle bydrae en rol in die kunste: Marion Holm met die prys vir vertolking (op die verhoog te sien in Marion Monroe), Lee-Ann van Rooi met die Kruispunt-prys (regisseur van Sonde met die spoke), Die Heuwels Fantasties met die prys vir vernuwende denke (te sien in onder andere die openingskonsert) en Oudtshoorniet, John Theodore, met die prys vir diens aan die kunste.
Teaterhoogtepunte
Onder die teaterhoogtepunte is die terugkeer van Hertzog-pryswenner, Ingrid Winterbach na die teater met ’n gekke satire, Moedswil en muitery onder regie van Tinarie van Wyk Loots met Albert Pretorius, Brendon Daniels, Nicole Holm en Dean John Smith.
Sonde met die spoke is ondersoekende joernalis Marianne Thamm se eerste teaterteks, wat voortspruit uit haar eie nuuskierigheid oor C.J. Langenhoven en bied ’n nuwe blik op die man en die taal, met Veronique Jephtas, Tinarie van Wyk Loots en Michele Burgers op die verhoog, onder regie van Lee-Ann van Rooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’