GRAAFF-REINET NEWS - In Maart-maand 2015 reis Jacobus Ignatius Allewyn Benadie (42) - ‘n inwoner van Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo - deur Graaff-Reinet.
Hy slaap een aand in ‘n gastehuis in die dorp oor en vertrek die volgende dag na George waar hy ‘n voertuig vir ‘n kliënt sou gaan aflewer om dan weer met ‘n ander voertuig terug te keer Mokopane toe.
Met sy terugkeer reis hy egter weer deur Graaff-Reinet.
Geluidloos, gesigloos omdat hy weet niemand in Graaff-Reinet ken hom of weet selfs van sy teenwoordigheid in die dorp nie.
Hy besluit om af te draai van die hoofstraat in die woonbuurt in op soek na ‘n slagoffer. Kort voor lank gewaar hy ‘n laerskoolseun wat rustig op pad is na die laerskool sportvelde vir ‘n rugby oefening.
Hy stop by die 11-jarige seun en vra hom of hy vir hom kan wys waar die laerskool en hoërskool is.
Goeds moeds begin die seun hom te verduidelik hoe om te ry, maar Benadie stel voor dat hy hom gou moet gaan wys, dan laai hy hom sommer by die sportveld af.
Sonder om twee keer te dink besluit die seun dat hy gou die “vriendelike gawe oom” sal help.
Min het die onskuldige jong seun geweet van die bose planne wat die “gawe, vriendelike oom” met hom het.
Nadat die 11-jarige seun in die motor geklim het, het Benadie met hom begin rondry en suggestiewe, walglike en seksuële vra aan hom begin vra en hom ook onvanpas probeer betas.
Benadie het ook by die laerskool verbygery nadat die seun vir hom gesê het dat hy moet stop omdat hulle nou by die laerskool is.
Die seun het besef dat hy in die moeilikheid is en dat hy nou iets sal moet doen, voordat die man met hom uit die dorp uit ry.
Daar het ‘n onbekende vrou van voor op die sypaadjie aangeloop gekom en die 11-jarige slagoffer het vir die vrou begin waai.
Sy het terug gewaai en die seun het dit tot sy voordeel gebruik en vir Benadie gesê dat dit sy ma is en dat hy moet stop.
Benadie het geskrik en dadelik gestop - op dié manier het die 11-jarige slagoffer homself gered, uit die motor gespring, en by die skool se sportgronde ingehardloop.
Só het ‘n knap jong seun later in skaamte sy traumatise ervaring aan Kapt Wena Theron - werksaam by die GKS-eenheid in Graaff-Reinet - oorvertel terwyl sy ‘n verklaring van hom geneem het en ‘n saak geopen het.
Maar Benadie was egter nog nie klaar nie.
Hy het verder deur die strate van Graaff-Reinet se woonbuurt gedwaal op soek na sy volgende slagoffer.
Kort voor lank het hy ‘n 13-jarige meisie in die straat gewaar - sy het sopas saam met haar vriendinne ‘n melkskommel in die Spur gaan drink en was op pad huis toe, nog met die Spur-glasie in haar hand.
Benadie het dadelik die geleentheid gesien en by haar gestop en vir haar gevra of sy hom asseblief kan verduidelik waar die Spur is en weereens het die 13-jarige kind dadelik begin om aan hom die roete Spur toe te verduidelik.
Net soos met die seun het hy vir haar gevra of sy nie net gou vir hom wil gaan wys waar die Spur is nie want hy is nie bekend met Graaff-Reinet en die omgewing nie.
Sonder om twee keer te dink het die 13-jarige dogter uit die goedheid van haar hart ingeklim om die “vriendelike gawe oom” gou te help.
Benadie het dieselfde modus operandi met die 13-jarige dogter gevolg en sy het gou besef dat haar goedheid en hulpvaardigheid haar nou in die moeilikheid gebring het nadat Benadie ook aan haar suggestiewe vra begin vra het en haar aan haar arm vasgegryp het.
Hy sê toe vir haar dat as sy doen wat hy vir haar sê om te doen, sal sy nie seer kry nie, indien sy egter nie gehoor gee nie, “sal sy beslis seer kry”.
Hy het haar toe gevra om haar denim broek wat sy aangehad het los te maak waarna die 13-jarige dogter begin skree en ruk en pluk het.
Sy het daarin geslaag om die motor se deur oop te maak en sodoende het haar optrede Benadie senuweeagtig gemaak en het hy besef dat sy mense se aandag gaan trek.
Hy het haar toe gelos en gesê sy moet bedaar hy sal haar by haar huis gaan aflaai. Wat hy dan ook gedoen het.
Graaff-Reinet is ‘n klein plattelandse dorpie waar mense mekaar ken en kinders volwassenes vertrou en respekteer.
Groot was die skok vir hierdie twee plattelandse kinders, hul ouers en die gemeenskap in geheel, dat so ‘n skokkende, traumatise ervaring hul kinders kon te beurt val in Graaff-Reinet.
Op 27 en 28 Julie 2016 het die saak in die streekshof begin en het die twee brawe kinders in die hof in kamera getuig.
Die 11-jarige seun was behoorlik deur die advokaat gekruisondervra vir twee vermoeiende dae lank, gelukkig was hulle behoorlik voorberei voor die aanvang van die hofsaak deur die ondersoekbeampte, wat hulle deur die hele hof prosedure gelei het en ook sielkundig voorberei het vir die gebruiklike kruisondervragings taktiek wat baie keer deur die verdediging se advokate en prokureurs gebruik word, en soos wat dit in hierdie hof saak dan ook nie anders was nie.
Die 13-dogter het, alhoewel sy baie emosioneel tydens kruisondervraging was, nogtans uitstekende getuienis gelewer op 29 November 2016.
Die doel van hierdie berig is dan ook om kinders en ouers attend te maak op hoe maklik dit vir ‘n krimineel is om onskuldige kinders sy prooi te maak.
Sekerlik het Benadie gedink dat daar geen manier is dat hy vasgetrek sou word in hierdie klein dorpie waar niemand hom eens ken of eens opgemerk het nie.
Te danke aan Kapt Wena Theron se ervaring as ‘n speurder en haar deeglike ondersoekwerk, is Benadie in sy spore gestop.
Op 4 September dié jaar is Benadie aan twee aanklagte van ontvoering, drie van seksuele aanranding en ‘n aanklag van aanranding skuldig bevind en is die saak is uitgestel na 15 Desember vir vonnisoplegging.
Die pas afgelope Vrydag, 15 Desember, word Benadie toe gevonnis tot korrektiewe toesig gevonnis nadat sy advokaat sielkundige verslae ingehandig het ter versagtende omstandighede.
Op die aanklagte van seksuele aanranding is hy tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis, wat ook behels dat hy vir die volgende vier jaar 16 uur ‘n maand gemeenskapsdiens moet doen.
Op die twee aanklagte van ontvoering is Benadie tot 30 maande gevangenisstraf gevonnis wat vir vier jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie op ‘n soortgelyke aanklag skuldig bevind word nie.
Benadie is op die aanklag van aanranding gevonnis tot ‘n verdere drie maande gevangenisstraf óf ‘n boete van R2 000, wat ook vir vier jaar opgeskort is.
Na afloop van die hof verrigtinge het die Graaff-Reinet Advertiser Kapt Theron genader vir kommentaar, waarop sy geantwoord het dat, “daar baie rolspelers in so ‘n saak betrokke is en dat dit alleenlik moontlik is om die kriminele element van die straat af te kry, om sodoende die gemeenskap ‘n veilige plek te maak om in te bly, as elke rolspeler sy werk reg doen en almal op dieselfde bladsy is”.
Die Advertiser het ook vir haar gevra hoe dit moontlik is om ‘n beskuldigde op te spoor en vas te trek as hy totaal onbekend is aan die slagoffers en die gemeenskap en nie eens van die area is nie.
Volgens Kapt Theron is dit moontlik as jy elke leidraad noukeurig opvolg en geen inligting of leidraad as onbelangrik ag nie.
Die ouers van hierdie kinders en die gemeenskap van Graaff-Reinet is trots en dankbaar vir toegewyde polisiebeamptes in die SAPD en die onbaatsigtige diens wat hulle lewer.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'