SOMERSET-OOS NUUS - Wat is Paasfees nou sonder ’n behoorlike bak kerrievis?
By Huis Silwerjare in KwaNojoli (Somerset-Oos) bly hierdie Paasfeestradisie nooit agterweë nie.
“Ons het alreeds die Woensdag begin met ’n kerrievisverkoping,” vertel Riette Lombard, die bestuurder van die tehuis.
“Daar heers altyd ’n wonderlike gees in die kombuis wanneer Paastyd nader kom.
Daar word met groot liefde en vreugde voorberei aan die kerrievis, en ons glo dit is hoekom Huis Silwerjare se kerrievis so hoog in aanvraag is.
Ons wil elkeen van ons kombuispersoneel bedank wat werklik alles ingesit het om hierdie jaar se vis weer voortreflik voor te berei.
Daarmee saam kan ons nie anders as om ons gemeenskap hartlik te bedank wat hierdie projek elke jaar met soveel oorgawe ondersteun nie.”
Inwoners vertel dat hulle elke jaar nie kan wag vir die kerrievisverkoping by Huis Silwerjare nie en sê hulle koop genoeg sodat gaste wat kom besoek aflê, ook saam kan eet.
Inwoners van die tehuis word met liefde en sorg deur die belangrike naweek begelei om Paasfees te herdenk.
Op Goeie Vrydag was die tafels pragtig gedek, en elke inwoner wat die naweek in die tehuis deurgebring het, is met kolwyntjies wat deur Wilmarie Botes gemaak en versier is, bederf.
Natuurlik was kerrievis ook op die spyskaart.
Op Paasmaandag is Paasfees met vrolik gedekte tafels en paaseiers afgesluit, “want niemand raak ooit te oud vir ’n sjokolade- paaseier nie!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’