Gallery
ABERDEEN NUUS - ABERDEEN - Feestelik-Februarie in skakerings van rooi en wit, en vir statigheid: ‘n tiksel swart. So is die kerksaal van die United Congregational Church (UCCSA) in Lotusville getooi vir hulle eerste Valentynsete, Saterdagaand, 11 Februarie.
Kerkraadslid Phillip Finnis sê vir die organiseerders was die funksie ‘n groter uitdaging as om tuin te maak sonder water!
FOTOGALERY: Kerk vier die liefde
"Ons gemeente is minder as 300 siele sterk en baie is bejaardes. En dan moet ons natuurlik alles skeduleer rondom beurtkrag," vertel sy vrou Esmé Finnis, hooforganiseerder en sameroeper van die ete.
"Ons moes die driegangmaal bedien voor die krag afgaan, sonder om die gaste deur die ete te jaag. Om by kerslig te kuier is romanties, maar nie ideaal vir kos bedien nie!"
Krag van liefde Die paartjie wat almal weer in die liefde laat glo het, Willie en Maria Jeggels, is al 54 jaar getroud en hulle soet liefdesverhaal span die kroon.
"En onthou, ons het vir sewe jaar uitgegaan voordat ons kon trou!” vertel Willie (87) en Maria (78). Maria, met die sagste, innemendste stem en gladste vel, vertel dat sy vir Willie dikwels herinner dat hy vir haar baie spesiaal is, want sy het "immers gebloei vir en oor hom".
"My pa was totaal gekant teen ons verhouding. Hy wou niks weet dat ek voor 30, ‘n kêrel mag hê nie. So, toe hy uitvind van Willie, het hy my een aand pak gegee dat die bloed letterlik geloop het. Hy het gereken hy wou Willie uit my uitslaan. Maar ek het toe eenvoudig net getrek en nie meer by hom gewoon nie, want ek was te lief vir Willie."
Maria het haarself bekwaam as onderwyseres en Willie was reeds ‘n suksesvolle boukontrakteur toe hulle na sewe jaar voor die kerkraad moes verskyn om toestemming te kry om te trou.
"Ons kon met skoon gewetes getuig dat ons mekaar in die sewe jaar respekvol leer ken het en niks gedoen het wat ons name kon beswadder nie." Hulle kyk innig vir mekaar soos jong verliefdes en sê gelyk: "En hier is ons nog steeds saam."
By die fotohoekie is herinneringe in beeld gebou.
Die rooiste, rypste waatlemoen-liefde roep: "Eet my!"
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'