CRADOCK NUUS - Wat vir 'n boervrou van die Cradock-omgewing begin het as 'n spesiale werkswinkel met die oog op Kersfees, het ontluik in 'n blommende stokperdjie vir vele.
Kendall Schoeman, boervrou van De Dam by Mortimer, het kort voor Kersfees die blink idee gehad om 'n werkswinkel oor die maak van natuurlike Kerskranse aan te bied.
Sy het 'n sessie gereël by True Living, 'n tuinrestaurant in Cradock (Nxuba).
As bloemis het sy 'n besondere liefde vir blomme en loof, en sy kon materiaal vir die werkswinkel in oormaat voorsien uit haar blomtuin.
Oumas en hul kleindogters, gastehuiseienaars en hotelbestuurders het opgedaag en pragtige loof-en-blomkranse is geskep. Wenke om ruikers vars te hou is ook gedeel.
Skielik was daar blomkranse op talle deure, met genoeg vars loof om Kersvader se takbokke tot reg voor die deur te lok.
Die wye belangstelling het die blommevrou so geïnspireer dat sy nog 'n werkswinkel gereël het, met die skepping hierdie keer 'n "bouqet bar".
'n Groot groep deelnemers is opgelei hoe om 'n ruiker saam te stel en vas te bind sodat dit oorhandig kan word, of te rangskik om 'n vaal hoekie op te tower.
Die werkswinkels is gratis en deelnemers betaal slegs vir die materiaal wat hulle gebruik.
Omring van veelkleurige blomme in haar pragtuin, en getooi in 'n vrolike blomrok, is Kendall Schoeman voorwaar 'n inspirasie.
“Ek kan sien hoe die blommevreugde mense se gemoed positief verander, en ek wonder of Graaff-Reinetters ook graag sal wil inskakel?” sê sy, voor sy voortgaan om blomme te pluk vir haar volgende projek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’