GRAAFF-REINET NUUS - Die Graaff-Reinet industriële besigheidsgebied is 'n bate wat van onskatbare waarde is vir die ekonomie van die dorp en die groter Karoo. Dit dra by tot die nasionale, en meer belangrik, die plaaslike ekonomie in terme van werkskepping, inkomstebelasting, kapitale investering, tegnologiese oordrag en natuurlik ook kulturele integrasie.
Neem dit weg van 'n dorp en almal ly daaronder.
Graaff-Reinet se industriële besigheidsgebied is 'n ware skatkis wat iets van alles aanbied. As jy 'n vreemdeling op die dorp is en jy soek dringend na iets, is die kans nege uit tien dat jy dit daar sal vind.
Van paneelklopdienste, 'n verskeidenheid ingenieurs-, meganiese- en insleepdienste tot 'n hardewarewinkel met sekerlik die omvattendste reeksA produkte in die dorp. Soek jy staal, verf, sand, sement, bakstene of elektriese toebehore, sal jy alles en nog meer iewers in die industriële besigheidsgebied kan kry.
As jy rommel wil laat wegry, kan jy hier kom aanklop. Hoop daar 'n klomp kartonbokse, pakke ou koerante en ander papier of stukke metaal in jou motorhuis of op jou erf op, kan dit maklik herwin word. Hulp is net 'n telefoonoproep weg.
Daar's 'n vleismark sou jy vleis in grootmaat wou aankoop en by die boerekoöperasie kry jy feitlik alles van 'n hamer tot veevoer. En heerlike speserye vir die klompie jagters.
As jy diere wil laat opstop kan jy om hulp gaan aanklop by 'n taksidermis en as jy 'n paar skape en beeste aanhou sal die slagpale jou kan help met die slagwerk.
Daai ou melamienkaste in jou huis kan maklik vervang word met nuwe melamien- of selfs soliede houtkaste deur by die besigheidspark by die kasmanne te gaan inloer.
Daar is selfs Ons Winkel wat tweedehandse en oortollige klere verwelkom wat hulle weer via Solidariteit Helpende Hand onder minderbevoorregte mense versprei.
Die Graaff-Reinet industriële besigheidsgebied kán in feitlik al jou behoeftes voorsien. Dis immers oor meer as 50 jaar opgebou en dit brei steeds uit.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'