GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet was nog nooit skaam om gerekende sakelui en entrepreneurs op te lewer nie.
Die dorp spog met Anton Rupert, GT Ferreira en nou óók met Heinz en Dieter Bertram wat in 2021 begin het om 'n leemte vir 'n klerereeks, eie aan hul universiteitsdorp te ondersoek en in 2022 met die Potch Apparel-reeks begin naam maak het.
Die reeks sluit in vier verskillende produkte wat kappiebaadjies, T-hemde, korttoppies (crop tops) en hoedjies insluit. Graaff-Reinet Advertiser het met Dieter gaan gesels gedurende sy kort vakansie om meer uit te vind oor die dryfveer agter hul sukses.
Die broers het onderskeidelik in 2018 en 2020 aan Hoër Volkskool gematrikuleer en het hul studies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus voortgesit.
Heinz is tans 'n vyfdejaarstudent besig met sy nagraadse studies. Dieter is in sy finale jaar van 'n B.Com internasionale handel graad. Beide broers was van skooldae af reeds kranige rugbyspelerd en draf Heinz al vir jare tydens Varsitybekertoernooie vir NWU uit en werk hy ook tans as kondisioneringsafrigter by dié universiteit. Dieter rig rugby by die Potchefstroom-gimnasium af en speel koshuisrugby.
Dit bewys weereens dat plattelandse skole hul leerders toerus met uitstekende tydsbestuur en doelgerigtheid, want tussendeur besige skedules van akademie en sport vind hierdie broers nog tyd vir besigheid.
"Ek en my broer hou nog altyd daarvan om entrepreneurs te wees. Ons pa, Henlein Bertram, is 'n uitstekende leermeester en klop ons gereeld aan vir raad en rigting," sê Dieter. So storie kom ook maar met sy eie uitdagings en leer mens maar lesse langs die pad.
"Ons het geleer om nie te vinnig besluite te maak nie, dat beplanning bitter belangrik is en dat jy geen produk kan ontwikkel sonder goeie navorsing en klante se opinies van jou produkte nie," verduidelik Dieter soos 'n gerekende sakeman.
Op die vraag wat tot dusver die sleutel tot hul sukses was antwoord hy vol selfvertroue dat mens in jou produk moet glo, bly op datum met die nuutste neigings in die mark en dra dit met selfvertroue.
Die twee het reeds personeel begin aanstel wat die bemarking, webtuiste en aanlyn winkel gaan behartig. Hulle het ook begin om universiteitskoshuise van informele koshuisdrag te voorsien en sal graag hierop ook wil uitbrei.
Hul raad aan enige jong persoon wat hul eie besigheid sou wou begin terwyl hul studeer is dat jy 'n duidelike visie moet hê, hard werk om alles te laat vlot en nooit moet ophou om kontakte op te bou nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’