MIDDELBURG NUUS - Dwarsvlei-plaas digby Middelburg was 'n miernes van bedrywigheid toe 2 500 feesgangers op 4 en 5 Julie daarheen gestroom het vir die 2025 Karoo Winterwolfees (KWWF).
Dit is weer eens bewys dat samewerking 'n reuse faktor is in die organisering van so 'n geleentheid.
Lede van die publiek, gastehuise, gemeenskapsnetwerke en besighede het as ’n span saamgewerk om die fees uiters suksesvol te maak.
Program
Die program was propvol interessante en vermaaklike aktiwiteite wat 'n verskeidenheid demonstrasies, uitstallings, sprekers, musiek, kindervermaak, oefening en natuurlik eet-en drinkgoed ingesluit het.
Demonstrasies het skaapskeer, wolklassering, -spin en -weef ingesluit, wat aangevul is deur uitstallings van merino- en landbouprodukte, asook 'n werkswinkel vir jong boere.
Verskeie boeregroepe het die fees bygewoon en kon plaastoere meemaak.
Die BKB- Merino Jeugskou het gespog met 36 kinderdeelnemers.
Tydens die Boerepraatjies sprekersprogram het die bekende Piet Croucamp en Annelize Crozby gesels oor politieke verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Volstruis-sakekamer, Cape Wools SA, die Rooivleisbedryfsdienste, en Agri Oos-Kaap, asook die belang van naspeurbaarheid.
'n Propvol sprekerstent het ook geluister na prof. Waldo Krugell, en dr. Imtiaz Sooliman, stigter en voorsitter van die Gift of the Givers.
Musikale aanbiedings het kunstenaars soos Chris Chameleon, Millennium, Darren Jacobs en die Midros Gemeenskapsblaasorkes ingesluit, terwyl 'n kunsliedopvoering met optredes deur Chris Vale, Klaus Jansen van Vuuren en Eugene Joubert die gehoor ontroer en geïnspireer het.
Handwerkwerkswinkels het veselkuns, gesigverf en ’n hoedewerkswinkel deur die bekende Crystal Birch van Kaapstad ingesluit.
Vier leefstylsessies het gefokus op aspekte van die Karoo-leefstyl, met 'n demonstrasie van lam- en skaapvleissnitte en die ontbening van 'n lamsboud, asook die maak van kerse.
Die Wool World-uitstalling en die Vier Seisoene modeuitstalling het groot byval gevind, terwyl merino- en ander stoeterye asook landbouprodukstalletjies 'n uitkoms was vir diegene wat meer in die proses van wolboerdery belangstel.
Iets te ete
Rondom die tema van kos was daar 'n verskeidenheid demonstrasies en stalletjies waar feesgangers Bokfontein-sushi gemaak van springbok-carpaccio, lamsosaties en -kerries, Glühwein, Babylonstoren-wyne en tradisionele karoodisse kon geniet.
Di Trollop van die St Barnabas Kerk het die "Knit-a-Square"-veldtog gekoördineer waar 1 000 wolblokkies (waarvan meer as 800 deur die Duinsalie-gemeenskap bygedra is), 82 musse, dosyne serpe, kniekomberse, gebreide teddiebeertjies ingesamel is.
’n Skenking van 100 komberse deur Gerber & Co aan the Gift of The Givers sal gebruik word tydens hul rampverligtingswerk.
Verskeie welsynsinstansies, kindersorg- en kinderhuise asook verskeie skole is geborg om in te skakel by die fees.
Prysuitdeling
Die OVK Gala-dinee en prysuitdelingseremonie-aand is in die Rusoord-dubbelverdieping skeerskuur gehou.
Wenners was as volg:
OVK Beste Enkelwolbaal Kompetisie - Le Roux Trust, Fonteinskloof (R25 000)
OVK Wolinnovasiekompetisie - Carlize van Zyl (R20 000) - wen hierdie kompetisie vir die tweede agtereenvolgende jaar
Wolkunskompetisie - Hansen Viljoen, Karoo Tuisskool Middelburg
Borge vir die fees het ingesluit die KWWF, OVK, Standard Bank, BKB, Sappi Verve, Nasionale Wolkwekersvereniging, SAMIL, Stucken, Agrisell, Babylonstoren, SPAR Middelburg, Ilse Olls, Johan van der Ahee, Cape Wools SA en Plaas Media.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’