KAROO NUUS - Die voorgestelde naamsveranderinge van Graaff-Reinet en drie ander dorpe in die Dr Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit, het reuse verontwaardiging en omstredenheid ontketen.
Die voorstel - afkomstig van die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur - is verlede week, 29 Augustus bekend gemaak tydens 'n spesiale raadsvergadering wat byeengeroep is deur Mark Mandita, verteenwoordiger van die departement.
Volgens Mandita het twee individue, wat volgens hom in terme van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting nie geïdentifiseer mag word nie, die naamsveranderinge voorgestel.
Die voorgestelde name is:
- Graaff-Reinet - Robert Sobukwe of Fred Hufkie
- Adendorp - Kwa Mseki Bishop Limba
- Aberdeen - Camdeboo
- Nieu-Bethesda - Kwa Noheleni
Die Advertiser het met verskeie rolspelers gepraat oor dié voorstel:
ANC
Eunice Kekana, ANC munisipale raadslid sê dat hierdie 'n delikate onderwerp is en dat baie partye betrokke is, daarom sal dit sensitief hanteer moet word. Sy sê dat sy net so verbaas was toe die naamsverandering tydens die vergadering genoem is.
DA
DA-raadslid Ewald Loock het gesê as dit 1 April was sou hy lag. "Die aanbieder kon nie eens al die voorgestelde name uitspreek nie." DA LP en Dr Beyers Naudé-kiesafdelingsleier, Samantha Graham-Maré sê die fondse vir "ligsinnige naamsveranderinge" kan bestee word op broodnodige herstelwerk aan verbrokkelende infrastruktuur - spesifiek vir water. "Sonder water sal dit regtig nie saak maak wat die dorpe genoem word nie. Inwoners sal gedwing word om te hervestig en die dorpe sal sterf." Graham-Maré sê stryd-ikone soos Sobukwe en Hufkie sou nie wou hê dat die koste om hulle te eer die finale spyker in dié dorpe se doodskis moet wees nie.
VF Plus
Raadslid Adriaan van Heerden, voorsitter van VF Plus in Aberdeen, sê Graaff-Reinet, Adendorp, Aberdeen en Nieu-Bethesda is uniek en kan nie met ander stede en dorpe vergelyk word as dit by naamsveranderinge kom nie. "Naamsveranderinge sal die streek biljoene rande uit die sak jaag." Hy sê Mandita se opmerking tydens die vergadering dat gemeenskappe in die voormalige Port Elizabeth en Grahamstad onsuksesvol beswaar aangeteken het teen hul nuwe name, dit duidelik maak dat die planne om dit hier deur te voer reeds in plek is. Die impak wat die naamsveranderinge op besighede, landbou en toerisme sal hê moet in 'n petisie vervat word omdat dit die brood en botter van die streek is.
VF Plus LP, Piet May sal namens die party beswaar aanteken.
Camdeboo Development Forum
Johnny Swartz, voorsitter van die Camdeboo Development Forum, sê die Forum is teen dié nuwe name gekant. "Dit sal toerisme in Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda 'n geweldige knou toedien. Waar gaan die geld vandaan kom?" Hy sê die persone wat die voorstel gemaak het nie die nodige navorsing gedoen het nie. "Gemeenskappe het nooit die geleentheid gekry om met enige voorgestelde name na vore te kom nie. Hoe hulle by die name uitgekom het sal hulle alleen weet." Die Forum glo dat die naamsverandering gedryf word deur 'n politieke agenda met die oog op die 2024 verkiesing.
Nieu-Bethesda
Althea Jeserzky, van die belasting-betalersvereniging in Nieu-Bethesda, sê die verandering sal groot skade doen aan die toerismebedryf, aangesien die naam Nieu-Bethesda wêreldbekend is en beteken "plek van vloeiende water".
"Die nuwe naam is 'n Xhosa-naam, en hier woon skaars 10 mense wat Xhosa kan praat." Sy sê dat hulle dit beslis gaan teenstaan.
Graaff-Reinet-toerisme
Tanya Kroon, voorsitter van Graaff-Reinet-toerisme sê dat die munisipaliteit en die Oos-Kaapse regering nie befondsing vir toerisme gee nie. "Nou beplan hulle 'n naamsverandering wat tot grootskaalse kostes sal lei as jy in ag neem dat die handelsmerk, logo en enige bemarkingsverwante sake aangepas sal moet word. Waar sal die fondse vandaan kom om dit te doen?" Sy sê dat Graaff-Reinet bekend staan as die Juweel van die Karoo. "Dit sou wees soos om Kaapstad se naam te verander."
Kim von Behr Imrie, bestuurder van Graaff-Reinet-toerisme sê Graaff-Reinet as handelsmerk is waardevol. "Dit is sinoniem met die Karoo. Om weer van vooraf te begin, is 'n stap terug eerder as vorentoe. Moet ons nie eerder belê in gemeenskapsinisiatiewe wat 'n groter voordeel vir die breër gemeenskap sal hê nie?"
Publieke deelname
Volgens Graham Maré word die belangrike rol wat naamsverandering in regstelling speel, deur die DA erken, maar dit is egter van kardinale beland dat die regering openlik met gemeenskappe is. "Om die vyfde oudste dorp in Suid-Afrika te hernoem verg beslis deeglike openbare deelname." Graham-Maré vind dit ook kommerwekkend dat Mandita sy aanbieding afgesluit het deur daarop te wys dat ander dorpe se name verander is ten spyte van heftige besware.
Volgens Vuyisa Jantjies, mediawoord-voerder van die DBNLM sal die munisipaliteit van hulle kant af die publiek deeglik in kennis stel van publieke deelname, op alle media- en sosiale platforms.
Kroon sê dat daar 'n verklaring uitgereik moet word dat alle belanghebbendes en geaffekteerde partye vir die openbare deelname proses, om beswaar aan te teken, wag en dat daar 'n behoorlike proses gevolg sal moet word.
GRRPA
Volgens Elizabeth Buisman, sekretaresse van die Graaff-Reinet belastingbetalers en inwoners assosiasie, is die komitee vasbeslote om beswaar aan te teken. "Mandita het gesê dit sal sinneloos wees om beswaar aan te teken, maar ons hoef dit nie te aanvaar nie. Die vraag is ook of dit ooit wettig is om dit te sê. Dit is ook twyfelagtig of die Popi-wet wel die identiteit beskerm van persone wat by die Oos-Kaapse provinsiale geografiese namekomitee aansoek gedoen het."
Pad vorentoe
Die departement het onderneem om 'n vergadering met belanghebbendes te belê om sodoende die opinie van die openbare sektor te bekom.
Die bevindinge sal dan aan die minister van sport, ontspanning, kuns en kultuur voorgelê word en, indien hy dit goedkeur, sal dit in die Staatskoerant verskyn met 'n 21-dae kennisgewing vir kommentaar en besware.
Munisipaliteit
Die Advertiser het met Vuyisa Jantjies, mediawoordvoerder van DBNLM gesels. Volgens hom was die DBNLM net so verbaas oor die voorgestelde naamsveranderinge tydens die spesiale raadsvergadering. Hy sê dat die munisipaliteit nie betrokke by die naamsverandering is nie en dat dit deur die departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur gedryf word. Enige besware sal ook aan die minister van die department gerig en gestuur word.
Teen druktyd het die Advertiser nog gewag vir kommentaar van verskeie rolspelers en sal dit gepubliseer word sodra dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’