CRADOCK NUUS - Daar was opgewondenheid in die Karoo toe 'n ma en dogter, boorlinge van Cradock, 'n resepteboek oor Karookos bekendgestel het. Marie Brümm - tans van 'n plaas buite Hanover, en haar ma, Ansu Erasmus, se boek Karoo Manna spog met 277 huiskosresepte.
Karoo Manna bevat Suid-Afrikaanse treffers, klassieke gunstelinge en nuwe idees.
Brümm sê die resepteboek is propvol inspirasie vir beginners én ou hande in die kombuis.
Hul disse verg min moeite, want "niemand het meer tyd om ure voor die stoof deur te bring nie," sê sy.
"Kos moet mense bymekaar bring, veral wanneer dit met liefde voorberei word.
Van 'n vinnige aandete tot 'n spesiale gesinsete vir familie of 'n kuier-ete vir vriende, sal ons boek jou inspireer om met meer selfvertroue en kreatiwiteit te kook."
Aanleg vir kosmaak
Brümm, wat in 2017 aan Cradock Hoërskool matrikuleer het, het nog altyd 'n spesiale voorliefde en aanleg vir kosmaak gehad.
Erasmus is 'n tipiese plaasvrou wat gewoond is aan die gebruik om drie etes per dag te bedien.
Hul huishoudings spreek van 'n liefde vir kos, lekker geure en lekker smake.
Brümm het van kleins af haar bord mooi gepak, selfs wanneer haar ma die kos voorberei het!
Navrae kan gedoen word by karoomanna@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’