GRAAFF-REINET NUUS - Kaptein Piet (Pottie) Potgieter van Cradock is tydens 'n spoggeleentheid in die Boardwalk Hotel in Gqeberha deur SAPS vir sy speurvernuf vereer.
Potgieter is tydens die Oos-Kaapse jaarlikse SAPS Excellence Awards op 11 Januarie as Speurder van die Jaar aangewys (2023/2024, vlak 8v tot 12) vir sy ondersoek in 'n hoë profiel hofsaak terwyl hy die provinsiale kantoor vir handelsmisdaad verteenwoordig het.
Potgieter het die feite van die ondersoek met Graaff-Reinet Advertiser gedeel.
Eerste been
Gedurende 2019-2024 is 'n geldwassery-sindikaat, wat op drie vlakke aktief was, aanvanklik van Graaff-Reinet en Middelburg bedryf. Die sindikaat het mense in Beaufort-Wes gewerf met die belofte van werk in Graaff-Reinet, gewoonlik groepe van vier of vyf, en hulle is dan na Graaff-Reinet vervoer waar hulle by die plaaslike munisipaliteit 'n vals adresbevestiging gaan doen het.
Hulle is meegedeel dat hulle 'n spaarrekening moes hê om in ag geneem te word vir die werk.
Die persone, met vals adresbevestigings, is dan na 'n Pakistanse besigheid in Middelburg geneem, wat hulle dan van drie onlangse betaalstrokies voorsien het, waarvolgens daar 'n salaris aan hul uitbetaal sou wees oor die laaste drie maande.
Daarna is die mense na Absa geneem, waar die bankbestuurder en 'n vroulike bankklerk hulle gehelp het om 'n spaarrekening te open.
Hulle was onbewus dat 'n kredietkaart verbonde was aan die aansoek. Die bankbestuurder en die bankklerk was deel van die sindikaat.
Die mense is dan vir 'n paar dae in 'n woning in Graaff-Reinet gehuisves, en is dan teruggeneem na Middelburg wanneer die kredietkaarte by die bank beskikbaar was.
Na ontvangs van hul kredietkaarte, is dit net buite die bank aan die Pakistanis gegee, waar hulle R3 000 tot R5 000 kon trek.
Die res is gebruik deur die sindikaat, wat sommer dadelik die geld by 'n Absa OTM onttrek het, hetsy in Graaff-Reinet of in Middelburg.
Die kredietkaartrekening is nooit vereffen nie, en Absa het dus die skade gely. Ongeveer 40 mense uit Beaufort-Wes het 'n 'betaling' van R2 000 tot R3 000 ontvang voordat hul eenvoudig weer by hul huise in Beaufort-Wes afgelaai is.
Tweede been
In die tweede aksie was pastoor Khaya Nocanda van 'n plaaslike Zioniste-kerk in Graaff-Reinet ook betrokke en hy het vervolgens dan ook ongeletterde mense wat swaarkry in Middelburg gewerf, met 'n belofte dat hul geseën sal word deur die kerk wat hul lewens sal verbeter.
Na ontvangs kan hul dan meubelaankope doen by die Pakistanse winkel.
Hierdie mense is eenvoudig van drie salarisbewyse voorsien en hulle het dan bank toe gegaan waar die rekening geopen is.
Wanneer die kredietkaart beskikbaar raak, het die pastoor vir elkeen meubels gekoop en dit was dan die laaste sien van die pastoor.
Die meubels is gekoop by 'n lid van die sindikaat.
Nocanda is uiteindelik skuldig bevind op aanklagte van geldwassery, rampokkery, vervalsing, diefstal, ontvoering en mensehandel.
Dieselfde plan van aksie is gevolg, waar die mense dan bewyse van adresse moes bekom en by die Pakistanse winkel dan ook drie betaalstrokies kon kry, waarna daar vervolgens 'n rekening by Absa geopen is, in samewerking met die bankbestuurder en vroulike bankklerk.
Hierdie mense kon dan aankope by die Pakistanse winkels doen, en die bank-bestuurder het dan gesorg dat die aankope betaal word uit die krediet-kaartrekening.
Derde been
In die derde geval is die publiek van Noupoort betrek by die skema en kon besigheidseienaars van Pakistan en Bangladesh hul besigheidsfinansiering van hul Spaza deur Absa verkry, omdat hulle met Suid-Afrikaanse vroue getroud was.
Na verkryging van 'n kredietkaart, op hul eggenote se naam, moes hierdie besigheidseienaars onmiddellik 30% tot 50% van die kontant, of 'n onderhandelde bedrag, aan die sindikaat oorhandig.
Tydens die laaste verskyning van die beskuldigdes in die hof in Graaff-Reinet vroeg verlede jaar, het 45 getuies bevestig dat hul ingetrek was in die werksaamhede van die sindikaat en die saak is eventueel in die hooggeregshof in Grahamstad verhoor.
Kathryn Kimberley van Herald Live het berig Absa het binne 'n jaar R1 miljoen in die bedrogspul verloor.
Die persone wat tereggestaan het op die klagtes was Lucinda Jooste (intussen dood), Mandisa Ndletyana, (toe Absa bankbestuurder in Middelburg), Patricia Pieterse (toe Absa bankklerk), twee buitelandse burgers, Muhammed Azfal Yaseen, Shahzad Akmal en Iqbal Zafar, 'n Pakistanse winkeleienaar wat homself voorgedoen het as 'n finansiële adviseur wat beloof het om die werkloses van 'n beter toekoms te verseker.
"Hoë profiel handelsmisdaad en rampok-kery het talle onskuldige, ongeletterde mense, wat in noodsituasies verkeer het, betrek by 'n sindikaat wat net daarop uit was om geld uit hulle te maak. Een van die beskuldigdes is reeds oorlede, en 'n ander het sedertdien 'n beroerte gehad," sê Potgieter.
"Elkeen wat gewerf is, is uiteindelik weer in dieselfde omstandighede nadat hulle net as onskuldige pionne gebruik is om derduisende te steel."
Tydens vonnisoplegging in die hooggeregshof in Grahamstad het regter Irma Schoeman die bedrieërs tussen 8 en 16 jaar tronkstraf opgelê.
Die aanklaer was advokaat Louis Sinclair.
Weinig speurders kan met so 'n sertifikaat spog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’