KAROO NUUS - Uit die hart van die Kamdeboo kom hierdie kontreiverhaal van twee kinders: die stories van die plaaskind, Katrina, en die Adendorpkind, Ella, wie se lewenspaaie later as volwassenes kruis.
Wildepruim kom uit die pen van Elmare Lombard, gebore en getoë in Adendorp, waar haar ouers, Danie en Dina Els, albei ook grootgeword het.
Die boek is verlede week in Stellenbosch by die Oude Leeskamer deur Naledi Uitgewers bekendgestel. By dié geleentheid het Jonathan Amid, gerekende boekkenner en resensent, Wildepruim beskryf as 'n "fragment-boek" wat 'n verwondering in die natuur van die Kamdeboo uitbeeld deur besonderse, gestroopte, liriese taalgebruik.
"Ek is verheug dat jy hierdie boek geskryf het. Jou verhale skitter soos die sterre net in die Kamdeboo kan doen," het hy gesê. "Dit is soos 'n goeie boek moet wees - vol pitkos!"
Lombard vertel dat sy die stories uit haar kinderdae destyds begin neerskryf het sonder die plan om dit te publiseer. Mettertyd het sy egter die stories aanmekaar begin weef en uiteindelik 'n volledige roman aan Naledi Uitgewers voorgelê. "Ek voel vir ewig verbind met my wonderlike, aardse grootwordwêreld met sy ryk geskiedenis en hartsmense. Een maal 'n kind van die Kamdeboo, altyd 'n kind van die Kamdeboo," sê Lombard.
Dr Wilhelm van Deventer, teoloog en manuskripkenner, beskryf Wildepruim as 'n toeganklike lekkerleesboek vol simboliek waarin mense, diere, plante en omgewingskarakters soos fossiele vanuit die verre verlede van hulle laat hoor.
"Die verhaal beeld die dinamika en teenstrydigheid tussen eenvoud, dankbaarheid, mededeelsaamheid en lewensvreugde uit, asook die letsels van swaarkry en droogtes wat jou sterker en meer lewenslustig maak. Dit is juis hier waarin die letterlike en figuurlike misterie van Wildepruim geleë is, naamlik die simbool van aanpassing en oorlewing midde-in die kontraste en kreatiewe spanning," sê Van Deventer.
"Ek skryf intuïtief en leef ook so. Sodra ek te veel dink, verdwyn die gevoel waarmee ek skryf. Daarom vertel ek stories en skryf ek fiksie wat deur simbole en karakters praat," verduidelik Lombard.
Die boek is in Graaff-Reinet beskikbaar by Malinda van der Merwe by 082 610 5248 en kan ook bekom word by Drostdy Toyota teen R285 per eksemplaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’