GRAAFF-REINET NUUS - Daar is mos nou niks wat 'n jagter gelukkiger maak as sy eie persoonlike spogjagmes nie.
Voeg daarby die feit dat dit spesiaal vir hom gemaak is en dat die mes sy eie storie het wat op die jagveld en tussen biltongkerwende vriende gedeel kan word, dan het jy die befaamde mesmaker, Christo Maartens, se wenresep.
Maartens bied gereeld kursusse in basiese en gevorderde mesmakery aan.
"Hoewel ek verkies dat my studente 12 jaar en ouer is, ontvang ek dikwels navrae van outjies wat nog heelwat jonger is om die basiese opleiding te doen.
"Dis 'n uiters gevaarlike opdrag om 'n mes te maak en hoewel ons met die grootste sorg te werk gaan, vind ek dat die manne bo 12 se hande net sterker is, en dit maak dit natuurlik makliker."
Maartens se opleiding behels dat beide die hef en die lem van topkwaliteit hout en staal vervaardig word.
"Daar gaan soveel ure se arbeid in een mes in dat dit nie die moeite werd is om minderwaardige hout of staal gebruik word nie.
"Ons maak ook 'n veilige leersakkie waarin elke mes gebêre kan word. Niks is gevaarliker as 'n skerp mes wat nie beskerm word nie."
Daar is weer hierdie skoolvakansie vir leerders die geleentheid om 'n intensiewe drie dae lange fisiese opleiding te voltooi en hul eie jagmes van formaat te maak.
Kontak vir Christo by 082 842 6293 as jy of jou seun 'n mes wil maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’