ALIWAL-NOORD NUUS - Die Ons-Gee-Om-landsdiensklub en die ATKV-jeugtak Buffels van Laer- en Hoërskool Aliwal-Noord het op Saterdag 18 April saamgespan om die konsentrasiekampgedenktuin langs die skool skoon en onkruidvry te maak.
Die inisiatief is geloods as viering van Internasionale Dag vir Monumente en Terreine - ’n dag van bewusmaking van die belangrikheid om ons geskiedkundige erfenis te bewaar en te beskerm.
Die Ons-Gee-Om-landskiensklub is die bewaarders van hierdie geskiedkundige terrein, ’n plek van herinnering en respek vir die 716 volksgenote wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 - 1902) in die konsentrasiekamp te Aliwal-Noord gesterf het.
Die oorskot van die gestorwe kampinwoners is later opgegrawe en op hierdie terrein herbegrawe.
Die oorspronklike grafstene is in die binnemure van die monument ingebou.
Van die kamp se inwonertal, wat op 29 Oktober 1901 ’n maksimum bereik het met 726 mans, 1 622 vroue en 2 395 kinders, het 712 mense volgens rekords gesterf.
Uit dié totaal was 166 ouer as 15 jaar en ’n skokkende 546 jonger as 15 jaar.
Kamptoestande haglik
Volgens Daantjie Badenhorst van die FAK is die konsentrasiekamp op Aliwal-Noord in Januarie 1901 geopen om burgers wat van Rouxville, Zastron en Smithfield in die Vrystaat gekom het, te huisves.
Omstandighede in die kamp was haglik.
Talle vroue en kinders is aan besmetting blootgestel weens die kamp se water, wat met emmers uit die Oranjerivier geskep is.
Die kamp het ook ’n uiters swak sanitêre stelsel gehad met net een toilet vir 170 vroue en kinders.
’n Tekort aan beddens in die kamphospitaal het baie sterftes veroorsaak.
Met ’n inwonertal van meer as 4 500 mense was daar net een markiestent wat as hospitaal gedien het.
Rantsoenering
Die brandhout wat uitgegee is om kos op gaar te maak, was onvoldoende.
Die koffierantsoen het die kinders siek gemaak en die halwe blikkie kondensmelk wat uitgedeel is, was veronderstel om ’n hele week te hou.
Sommige mense moes onder die sterre slaap.
Een van die vroue in die kamp het beskryf hoedat hulle in hul komberse, wat soms sopnat van die reën was, gebibber het van die koue.
Sterftal hemelshoog
Na die vredesluiting het ’n aantal krygsgevangenes tydelik op die terrein gewoon totdat hulle met hul gesinne herenig is.
Die kamp is amptelik op 28 November 1902 gesluit.
Deur inisiatiewe soos die skoonmaak van die terrein word nie net ons erfenis bewaar nie, maar ook die stories en opofferings van die verlede lewendig gehou vir toekomstige geslagte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’