KAROO NUUS - Die welbekende Pauline Anniet van Zyl, neé Nel, speel reeds vir baie jare 'n leidende rol in die Oos-Kaap, sowel as in haar tuisdorp, Jansenville. Van Zyl het in 1957 saam met haar man, Jannie, na Jansenville verhuis toe sy werk hom verplaas het.
Toe hy later as burgemeester verkies is, het sy bankvas agter hom gestaan en hom gehelp met al sy verpligtinge, insluitend fondsinsamelings vir die verfraaiing van die dorp.
Sy het, onder andere, sewe suksesvolle karnavalle gereël en met die fondse het sy die kaal kerkplein in 'n pragtige park met rotstuine en verskeie struike en bome omskep. Sy het ook 'n stoep aan die kant van die stadsaal laat aanbring waar funksies aangebied kan word. Benewens die karnavalle was Van Zyl in beheer van die dorp se 125ste en 150ste vieringe en baie ander plaaslike feeste.
Van Zyl het Jansenville se dramavereniging vir 30 jaar aan die gang gehou.
Sy was deur die jare ook die voorsitter van vele verenigings. Sy was vir 25 jaar voorsitter van Jansenville se Vroue-Landbouvereniging en in 2016 het sy die Midlandse Vroue-Landbouvereniging se Diamond Award ontvang. Sy was ook vir vier jaar voorsitter van die ATKV-tak in Jansenville en die NG Kerk se Vrouediens en het ook as voorsitter van die destydse Committee of Institutions gedien wat in beheer van 21 ouetehuise en drie kinderhuise in die streek was.
Met haar voorliefde vir die dorp se erfenis, het sy as voorsitter van Ikwezi Local Tourism haarself veral toegespits op die bewaring van plekke en geboue van historiese belang soos die kerk en die ou fort. In 1999, nadat oudinwoner en voormalige burgemeester van Jansenville, Sid Fourie, sy huis aan Jansenville bemaak het, het Van Zyl die Sid Fourie Historical House gestig.
Sy het ook verskeie projekte van die Nasionale Loterykommissie bestuur - een vir die Jansenville-tennisklub waarvan sy vir sewe jaar lank president was; drie vir die Jansenville-museums; en agt vir die Huis Welverdiend-ouetehuis waarvan sy vir baie lank die voorsitter was. As voorsitter van Huis Welverdiend het sy sedert 1989 meer as R5 miljoen vir die ouetehuis ingesamel. Met hierdie fondse het sy, onder andere, drie eenhede langs die bestaande ouetehuis laat aanbou om voorsiening te maak vir behuising vir pensioenarisse bo 60.
Van Zyl is steeds die voorsitter van Jansenville & Beyond Tourism, die Sid Fourie-trust en die Sawas Health Memorial.
Van Zyl sê sy sou nooit al hierdie dinge kon bereik sonder die Here se genade en haar gesin se ondersteuning nie.
"My man gee my die nodige ruimte en ondersteun my in alles wat ek doen. Ek is so geseënd om hom nog aan my sy te hê. Ons sal in Desember 70 jaar getroud wees. My drie kinders en hul families is ook vir my baie kosbaar en beteken geweldige baie vir my."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’