JANSENVILLE NUUS - Jansenville-inwoner Erika Gerber het besonder goed gevaar by die jukskei-meesterskampioenskappe wat van 6 tot 10 Oktober in Kroonstad plaasgevind het.
Gerber se drie spanmaats is haar susters - Ina Wride en Wynarda van Eck van Jeffreysbaai, en Anna Weyers van Gqeberha.
Hulle het in die D-afdeling deelgeneem en silwermedaljes vir driespel en spanspel verower.
Gerber vertel dat sy en haar drie susters in hul junior dae jukskei gespeel het, maar later opgehou het.
Voordat sy dit in 2024 hervat het, was die laaste keer wat Gerber gespeel het in 2006.
Kampioenskappe
Die jukskeiwedstryde word in Despatch gespeel omdat dit die enigste dorp is waar daar nog ’n jukskeibaan is.
Op hierdie baan word gereeld opedagtoernooie aangebied waaraan ander jukskeispelers van klubs in die Wes-Kaap ook kom deelneem.
Twee keer per jaar is daar ook kampioenskappe in Kroonstad - een in April vir mans- en vrouespanne apart, en een in Oktober vir gemengde spanne.
Dit is ’n toernooi vir senior persone, en daarom moet alle dames bo die ouderdom van 45 en alle mans bo die ouderdom van 50 wees om deel te neem.
Gerber vertel dat sy en haar susters verlede jaar tydens een van hierdie kampioenskappe geskiedenis gemaak het toe hulle die eerste span ooit was wat uit vier susters bestaan.
Op hierdie stadium is Gerber die enigste persoon in Jansenville wat jukskei speel - haar susters woon in Despatch, Oos Londen, en Hartenbos onderskeidelik - maar sy hoop om meer mense te betrek.
Enigeen wat belangstel om saam te speel, kan haar gerus kontak by 072 314 6305.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’