JANSENVILLE NUUS - Van 26 September tot 2 Oktober word die Week vir Ouer Persone gevier.
Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend, ’n tehuis vir bejaardes in Jansenville, is ook ’n aktiewe lid van Solidariteit Helpende Hand.
Mulder het die volgende inligting met Graaff-Reinet Advertiser gedeel, en persone aangemoedig om bedag te wees op die tekens wat kan dui op demensie.
“Ons deel graag die volgende inligting rakende demensie wat ons ontvang het van die Association for Dementia and Alzheimer's (ADASA),” verduidelik Mulder.
Mense begin vergeet soos hulle ouer word; dit is gewoonlik ’n teken van normale veroudering.
Met demensie is die verandering anders en ernstiger en dit het ’n groter impak op die lyer se lewe.
Wanneer jou simptome jou alledaagse funksionering begin affekteer, is dit belangrik om ’n dokter te spreek vir ’n diagnose.
???????????? ?????? ???? ???????????????? ??????:
• Korttermyngeheue verswak.
• Vermoë om aktiwiteite te beplan, neem af.
• Taal- en kommunikasievermoë gaan agteruit.
• Algemene verwarring en disoriëntering rakende tyd en/of plek.
• Sukkel met abstrakte redenasies en raak paranoïes (wantrou ander).
• Vermoë om bekende aktiwiteite uit te voer, neem af.
• Misplaas voorwerpe.
• Sukkel om tred te hou met dinge.
• Gedrags- en persoonlikheidsveranderings.
• Skielike gemoedskommelings.
• Sukkel om visuele en ruimtelike inligting te verstaan.
• Apatie en verlies aan inisiatief.
Demensie kan net deur ’n dokter gediagnoseer word. Moet dus nie probeer om jouself of iemand anders te diagnoseer nie.
Ouer persone en diegene met ’n vorm van gestremdheid is deel van Helpende Hand se fokusareas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’