GRAAFF-REINET NUUS - Heinrich Muller, lid van die Oos-Kaapse Parlement en Oos-Kaapse Middelandse kiesafdelingsleier, het formeel aan die burgemeester, speaker en hoofsweep van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYLM), voorheen Cradock-munisipaliteit, wat as die argitekte van die munisipaliteit se ondergang verantwoordelik gehou word, geskryf en hul onmiddellike bedanking geëis.
Op 13 Februarie het Muller gesê dat, terwyl die burgemeester met haar nuwe Audi Q5, wat deur die belastingbetalers betaal word, rondrits, het dienslewering in die munisipaliteit, wat die dorpe Cradock en Middelburg insluit, effektief tot stilstand geruk; blatante wanadministrasie en die wanbesteding van openbare fondse is ook aan die orde van die dag.
Muller en DA-kommunikasiebestuurder, Norman Sulke, glo dat die burgemeester, speaker en hoofsweep verantwoordelikheid moet dra.
Daar word geëis dat hulle die eerbare optrede sal volg en bedank, "aangesien dit in die beste belang van IYLM en sy inwoners sal wees".
Volgens Muller is die Inxuba Yethemba-munisipaliteit in 'n krisis en op die rand van totale ineenstorting, en dié toedrag van sake word versterk deur die volgende probleemareas wat uitgelig word.
Slegs een van die munisipaliteit se vyf trekkers is in werking, en nie een van sy munisipale TLB's (trekker-laai-laaigrawe) of wipwaens is in 'n werkende toestand nie.
Die munisipaliteit worstel met 'n verby-sterende skuld van meer as R600 miljoen wat aan Eskom verskuldig is, wat daagliks eskaleer.
Inwoners word gevolglik aan onbetroubare elektriese dienste onderwerp, wat gekenmerk word deur gereelde kragonderbrekings, stukkende straatligte en ongekontroleerde verliese en diefstal van elektrisiteitsverspreidingstoerusting.
Verbrokkelende paaie en verstopte stormwaterdreine kom op byna elke straat voor.
Daaglikse wateronderbrekings, dikwels sonder verduideliking, het die norm geword, wat honderde inwoners op watertenkwaens aangewese laat.
Die ongekontroleerde vloei van rou riool deur die strate en in die Groot Visrivier is nie net 'n openbare gesondheidsgevaar nie, maar ook 'n blatante omgewingsmisdaad wat nie langer geduld kan word nie.
Hierdie inligting is vervolgens ook gedeel met die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, om Artikel 154-ondersteuning vir die munisipaliteit te versoek.
Hierdie ondersteuning vereis van nasionale en provinsiale regerings om bystand aan munisipaliteite te verleen in die bestuur van hul sake.
Die inwoners van die dorpe onder die Inxuba Yethemba-munisipaliteit moet toegang hê tot basiese dienste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’