GRAAFF-REINET NUUS - Musiekliefhebbers kan uitsien na ’n uitsonderlike aand wanneer die jong pianis Christian-Peter Hiemstra op Donderdagaand 19 Februarie by die John Rupert-teater optree.
Die 15-jarige kunstenaar word as een van die voorste opkomende pianiste van sy generasie beskou en het reeds internasionaal groot opslae gemaak.
Hiemstra, seun van Suid-Afrikaanse ouers, is reeds op negejarige ouderdom tot die gesogte Royal College of Music in Londen toegelaat, waar hy onder die bekende komponis en pianis Prach Boondiskulchok studeer het.
Tans sit hy sy studies voort aan die Hochschule für Musik Basel in Switserland onder leiding van Benedek Horváth.
Hy het al saam met vooraanstaande pianiste soos Konstantin Scherbakov, Ronan O’Hora en Steven Kovacevich gewerk.
Op slegs 12-jarige ouderdom het hy sy orkesdebuut gemaak saam met die Britten Sinfonia in Edvard Grieg se Klavierconcerto in A mineur.
Sedertdien het hy uitvoerings in die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Switserland, Litaue, Italië en Suid-Afrika gelewer.
Hiemstra se spel word deur musici en kritici geloof vir sy “wonderbaarlike klanke”, “persoonlikheid en waagmoed” en “roerende, verfynde emosie”.
Sy unieke klank en merkwaardige kunsvaardigheid maak elke uitvoering ’n intense en boeiende ervaring.
Suid-Afrikaanse gehore kry weer die geleentheid om hierdie uitsonderlike jong kunstenaar tydens sy 2026-toer te beleef, met Graaff-Reinet as een van die bestemmings.
Vir meer inligting oor tye en kaartjiebeskikbaarheid, kontak Ilse Schürmann, toerorganiseerder, by 082 851 7157 of per e-pos by [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’