SUID-KAAP NUUS - Ouers word gemaan om toe te sien dat hul kinders ten alle tye geïmmuniseer is teen masels wat longontsteking en enkefalitis (swelling van die brein) kan veroorsaak en selfs tot die dood kan lei.
"Masels is 'n aansteeklike siekte wat vinnig in gemeenskappe kan versprei, veral waar kinders nie ingeënt is nie." het Dr Aaron Motsoaledi (nasionale minister: departement gesondheid) aan die media gesê.
Maselsuitbrake het onlangs in die Wes-Kaap voorgekom en vinnige ingryping deur die departement van gesondheid het die verspreiding van die siekte gestuit. Die departement se veldtog streef daarna om 'n 95% masels dekking koers te bereik. Dit word deur middel van beskikbare immunisasiedienste in alle openbare gesondheidsfasiliteite gedoen.
Tog is daar vandag ouers wat nie in inenting glo nie en dus hul kinders oningeënt laat tot nadeel van die kind, asook mense met wie hy of sy omgaan. Om inenting te ignoreer kan dodelik wees.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beklemtoom dat inenting noodsaaklik is om jouself en die mense om jou te beskerm.
Inenting dek 'n breë spektrum dodelike siektes en is komplikasies wat met dié siektes gepaard gaan, baie gevaarliker as die newe-effekte van inentings. Lewensgevaarlike aansteeklike siektes is deur middel van inenting suksesvol beheer of uitgewis.
Die volgende inentings word in Suid-Afrika gratis toegedien:
- By geboorte word orale polio-inenting en BCG-entstof teen TB gedoen.
- Op ses weke word 'n orale polio-inenting, Rotavirus-inenting, DTaP-IPV/Hib 1 (dit is teen witseerkeel, tetanus, asellulêre kinkhoes, geïnaktiveerde polio-entstof en tipe B-hemofilusgriep) en HBV (1) teen hepatitis en die pneumokokkale toegevoegde entstof toegedien.
- Op tien weke word 'n DTaP-IPV//Hib en HBV inenting toegedien.
- Op 14 weke word 'n Rotavirus-inenting, DTaP-IPV//Hib, HBV en pneumokokkale toegevoegde entstof toegedien.
- Op Nege maande moet die masels-inenting en PCV toegedien word.
- Op 18 Maande word DTaP-IPV//Hib en 'n Masels-inenting gedoen.
- Op eenjarige ouderdom word waterpokkies en hepatitis A inentings gedoen.
- Op vyf jaar word poliodruppels, die DTP-vaksien en die MMR-vaksien weer gegee.
Wetgewing vereis tans nie inentings nie, maar wanneer 'n vrou geboorte skenk in 'n hospitaal of kliniek kry sy 'n Road to Health-sertifikaat waarop die kind se inentings ingevul moet word.
Meeste skole vereis as deel van hul toelatingsbeleid dat 'n kind inentings vir polio, masels, tuberkulose, witseerkeel, tetanus en hepatitis B kry. Indien daar nie bewyse is nie moet die skoolhoof die ouers vra om die kind te laat inent.
Inentings van kinders word tot en met 12-jaar deur die regering gedek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'