Update
KAROO NUUS - Plaaslike Boer Soek 'n Vrou aanhangers het tydens dié seisoen vasgenael voor hul kassie gesit om te sien of geliefde Karoo-kind Graham Lombard (27) van Cradock 'n pasmaat sal ontmoet.
Hierdie melkboer, wat ook 'n ingenieursgraad het, kon onlangs uiteindelik verklap dat hy halsoorkop verlief op Ilne Prinsloo (21) van Potchefstroom is. Al het die reeks eers vroeër hierdie maand klaar uitgesaai, is dit reeds al teen laasjaar September opgeneem.
Die gelukkige paartjie is al reeds vir byna vyf maande saam, maar moes dit weens die uitsendings 'n geheim hou.
"Dit is ongelooflik lekker om te weet dat ek nou met my meisie in die publiek kan verskyn of haar my profile picture op WhatsApp maak," het Lombard vir die Advertiser gesê. Volgens hom het sy familie en vriende wel van die verhouding geweet, maar het hulle goed van hul taak gekwyt om dit 'n geheim te hou.
Prinsloo, wat 'n B.Com-graad in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge het, sê sy het nooit gedink dat 'n gelukkige einde die uitkoms sou wees toe sy haar brief vir Lombard gestuur het nie. "Ek het geweet dat die hele proses vir my ongelooflik goed gaan wees, net nie in watter terme nie."
Volgens Prinsloo was haar gunsteling aspek om haar visie te verbreed deur ander mense te ontmoet. "Mense het my so inspireer met hul stories." Natuurlik was nog 'n hoogtepunt dat Prinsloo háár boer ontmoet het. "Hy hanteer alle mense so goed, en hy laat my lag. Hy maak die lewe vir my lekker."
Vir Lombard is dit Prinsloo se glimlag en positiwiteit waarvan hy die meeste hou. "Sy helder enige vertrek op. Haar positiewe uitkyk oor die lewe is iets waarna ek streef."
Graham Lombard en Ilne Prinsloo het 'n gelukkige einde op die kassie gekry.
Aanhangers van die paartjie moet maar geduldig wees, want trouklokke is nie naby nie. Prinsloo moet eers haar honneursgraad voltooi, maar daar is wel 'n kans dat sy nader aan die Karoo sal trek. "Ek moet besluit of ek in Potchefstroom gaan studeer of deur UNISA, maar ons gesels nog daaroor," het sy verduidelik. "Op die oomblik geniet ons die seisoen waarin ons is en vat dit soos dit kom," het Lombard gesê.
Volgens Prinsloo gee sy glad nie om oor die publiek se belang in haar en Lombard se verhouding nie.
"Dit is lekker om ons storie met mense te deel en ons geniet die mense se belangstelling en ondersteuning. Dit is wel belangrik om te onthou dat die verhouding steeds tussen ons twee is."
Vir meisies wat oorweeg om vir die reeks in te skryf, is Prinsloo se raad dat hul waarde nie bepaal word deur 'n boer se keuse nie. "Almal is so uniek en spesiaal, as jy jou hart konstant check kan jy soveel pret hê."
En Lombard se raad vir boere? "Ek kan nie glo dat daar enige boer in die land is wat nie sal inskryf nie. Dit is 'n ongelooflike ervaring."
Lees 'n vorige artikel: 'Alle alleen-boere moet inskryf'
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'