KAROO NUUS - Melkboer Graham Lombard (27) van Cradock het nooit op hoërskool 'n episode van Boer Soek 'n Vrou misgeloop nie; 'n tradisie wat hy voortgesit het saam met mede Dagbreek-koshuisgangers aan die Universiteit van Stellenbosch.
Die voormalige ingenieurstudent se vriende het destyds gespot dat hulle Lombard vir die program gaan inskryf, en toe het hulle dit so wraggies vroeër vanjaar gedoen.
"Die program het my gekontak en gesê ek moet self inskryf, toe het ek."
Volgens Lombard, wat aan die begin van die jaar teruggekeer het plaas toe, het hy gedink dat die program die ideale platvorm sou wees om mense te ontmoet.
In laasweek se episode het kykers gesien hoe Lombard hope briewe van moontlike pasmaats ontvang; genoeg om hom in die top-vyf te laat beland.
Kykers sal oor die volgende paar weke sien hoe hy, Hentie (van Clanwilliam, Wes-Kaap), Willem (Clanwilliam), Theunis (De Doorns, Wes-Kaap) en Damian (Bapsfontein, Gauteng) na ware liefde soek.
Hierdie episodes is reeds verfilm, maar Lombard kan nie nou al verklap of hy al opsoek is na 'n verloofring nie.
"Ek kan wel sê dat dit 'n opwindende reeks en ongelooflike ervaring is.
Ek sal dit vir enige boer wat 'n girl wil hê aanbeveel," skerts hy. "Dis nogal nerve-wracking om op kamera oor jou gevoelens te praat, maar die Boer Soek 'n Vrou-span het my baie gemaklik laat voel."
Nog 'n uitdaging vir Lombard was om slegs 10 briefskrywers te kies, wat hy in hierdie week se episode (31 Oktober) tydens blits-afsprake sal ontmoet. "Al die briewe het my so spesiaal laat voel, al die meisies het moeite gedoen. Dis sleg om nie almal te kan ontmoet nie."
Lombard is deel van die sesde geslag van boere wat in die Cradock-omgewing boer. "Ek ken nie iets anders as die plaas nie. Ek het vir 'n ruk as ingenieur in 'n stad gewerk, maar die platteland se manier van omgee kry jy nie iewers anders nie. Dit is 'n voorreg om te kan boer."
Karoo-inwoners kan Graham Lombard (27) van Cradock weekliks op die kleinkassie sien in Boer Soek 'n Vrou.
Vyf vinnige vrae vir boer Graham:
- Een woord om jouself te beskryf: "Regverdig."
- Jou droom vakansie is in..: "Spanje of Portugal."
- Jy wou dit word toe jy klein was: "'n Ingenieur."
- Die ideale afspraak: "Ons twee, kerslig, goeie geselskap en 'n glasie wyn."
- Gunsteling ding van die Karoo: "Die eenvoud daarvan. Dinge is reg en opreg, daar word nie doekies omgedraai nie."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'