JANSENVILLE NUUS - Huis Welverdiend, 'n tehuis vir bejaardes op Jansenville, word sedert 4 Junie swaar deur die Covid-19-pandemie getref.
Pauline van Zyl van dié tehuis sê dat 18 inwoners en sewe personeellede gedurende dié tyd in die hospitaal opgeneem is. Drie inwoners is sedertdien oorlede.
Ria de Kock is op 4 Junie na die Cuyler-kliniek op Kariega (Uitenhage) oorgeplaas nadat sy geval het. Tydens ‘n roetine ondersoek is bevind dat sy Covid-19-positief is en hierna het een na die ander inwoner en personeellid positief getoets vir die virus.
Daar is tans nog drie inwoners en twee personeellede in die hospitaal terwyl vyf inwoners by die tehuis verpleeg word, omdat die hospitaal op die oomblik slegs pasiënte met asemnood en wat ernstig siek is opneem. Een van die personeellede wat ontslaan is, het intussen 'n terugslag gehad en is per ambulans na 'n hospitaal in Gqeberha vervoer.
Die onlangse vlaag Coronavirus-infeksies was 'n groot ontnugtering vir die tehuis waar daar vir die afgelope jaar en 'n half geen positiewe Covid-19-gevalle was nie. Wat die situasie soveel erger gemaak het, was dat die bestuurder, Leone Mulder, die ontvangsdame, Charmaine Fourie, en die faktotum, Piet Mulder, ook positief getoets het en in die hospitaal opgeneem moes word.
Leone is verlede Donderdag uit die hospitaal ontslaan en het tot groot verligting van almal haar dienste hervat. Charmaine en Piet is ook ontslaan en het Dinsdag uit isolasie gekom.
Die inwoners is nog steeds in afsondering en alhoewel die oorblywende personeel swaar dra om almal te versorg en verpleeg, word daar baie mooi na almal gekyk.
Die beheerraad van die tehuis het intussen noodmaatreëls getref om die verdere verspreiding van die virus te stuit. 'n Firma van Gqeberha het die tehuis met 'n fyn mis, wat alles in 'n vertrek bedek en vir 28 dae aktief is, gespuit en alle wasgoed is gewas met middels wat sal verseker dat die wasgoed vir die volgende agt wassiklusse nie behandel hoef te word nie.
Die tehuis het ook ‘n ruim skenking van onder meer handskoene, oorpakke en saniteerder van Gift of the Givers af ontvang.
In hierdie stadium is al die personeel reeds ingeënt en die inwoners sal ook binnekort hul inentings ontvang. Streng maatreëls word deurentyd gehandhaaf en dit blyk asof alles nou onder beheer is by die tehuis.
Die drie inwoners wat oorlede is, is Ria de Kock, Marie Nel, weduwee van die voormalige stadsklerk, wyle Jerry Nel, en Marietta Nel, weduwee van die eertydse jare lange skouvoorsitter, wyle Andrew Nel.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'