JANSENVILLE NUUS - Daar is altyd ’n doenigheid by Huis Welverdiend in Jansenville, en by die Whitlock Care Centre reg oorkant die straat gaan dit net so bedrywig.
Die hupse inwoners van Whitlock Care Centre daag toe onlangs vir Huis Welverdiend uit vir ’n speletjiesoggend met vingerbord, domino's en bonesakkie-gooi (corn hole).
En wat ’n uitdaging was dit nie!
"Ons wil regtig nie verskonings uitdink nie, maar sommige van ons inwoners was dubbeld hulle ouderdom!" het die inwoners by Huis Welverdiend agterna gesê.
"Kyk, Whitlock Care Centre se inwoners was nou glad en geheel nie afgeskrik deur ons senior burgers se ondervinding, wyshede en ervaring van die lewe nie," vertel Leoné Mulder, bestuurder van Huis Welverdiend.
Piet Mulder en Vernon Williams kon dit darem regkry om die personeelspan van Whitlock Care Centre se Maria Hektoor en Noxi Blouw in domino's te klop en Huis Welverdiend is nie met leë hande huis toe gestuur nie.
Toe dit by die bonesakkies kom, was dit duidelik dat Aletta Warnicker van Whitlock Care Centre ’n ou hand is.
Ewe netjies het sy keer op keer die sakkies suiwer deur die gaatjie in die houtbord gegooi.
Die vingerbordspesialisspan van Whitlock Care Centre het ook die krom- en rumatiekvingerspan van Huis Welverdiend stert tussen die bene huis toe gestuur.
Toe die sports verby is, het almal gesmul aan die vingerleklekker eetgoed uit Sylvia Arendts se kombuis by Whitlock Care Centre, en nog vir 'n rukkie lekker saamgekuier en gelag.
Volgende maand is die uitdaging in die Huis Welverdiend kamp!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’