GRAAFF-REINET NUUS - By Huis Welverdiend in Jansenville klink dit asof Kersfees heeljaar duur, maar die bestuurspan en inwoners trek jou wrintiewaar nog boonop geskenke uit Kerskouse vir ander mense ook.
Op Donderdag 28 November het die tehuis uitgereik na kinders in die Jansenvillegemeenskap.
"Huis Welverdiend se personeel en inwoners het die kinders van Jansenville by die tehuis bederf, en 'n regte, egte Krismispartytjie gehou," vertel bestuurder Leoné Mulder.
"Vernon Williams en Eric Pangwa het al van die Dinsdag voor die verrigtinge die tuin in die perfekte venue omskep. Ons wou graag al ons inwoners ook 'n slag in die tuin kry en hierdie was mos nou net 'n plan wat kon werk. Daar was immers 'n Kersvader oppad en die weer het saamgespeel!"
Mariana Visser en Maré Vosloo het die Dinsdag al begin om die pakkies te pak en alles in plek te kry.
Die kombuispersoneel, Rita Matomela, Des Fanella en Mickey Samnokwe was natuurlik weer die belangrikste rolspelers wat agter die skerms wondere verrig het.
"Daar is lekker gedans op die musiek verskaf deur Charmane Vlooi Smith en heerlik gegly op die selfgemaakte waterglybaan," vertel Mulder.
"Die kinders en inwoners is sommer deur die bank bederf met popcorn, koeldrank en lekker vetkoeke. Die kersie op die koek vir die bejaardes was dat elke kind 'n verrassingspakkie kon kry en dit was vir die kinders die absolute hoogtepunt van die jaar, want dit was so 'n voorreg om iets saam huis toe te vat.
Rhona Koetaan het op baie kort kennisgewing kosbare insette gelewer," vertel Mulder.
Die tehuis is nou vir 'n kort rukkie stil, want almal is uitgeput na al die vrolikheid!
Ben Roos vroetel egter steeds in die tuin, want daar kom niks ooit tot rus nie.... soveel mooi vat moeite.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’