GRAAF REINET NUUS - Die Camdeboo Hospice in Graaff-Reinet kyk terug op hul uiters suksesvolle rolbaldag wat op 15 November as fondsinsameling gehou is.
Susan van der Linde, die skakelbeampte by dié instansie, sê dat dit 'n paar bedrywige weke se voorbereiding geverg het.
Hul bemarkingspan het spanne gewerf om deel te neem, borge is genader vir pryse, en vele ander reëlings moes getref word.
“Altesaam 16 spanne het ingeskryf en hulle het ongeveer 08:30 begin speel. Strafdoppe moes gedrink word as jy skeef rol en daar was heelwat pret en plesier.
Sommige spanne het nog nooit gespeel nie en die algemene gedagte was dat dit voortaan ‘ons’ sport gaan wees, want dit was lekker,” vertel Van der Linde.
Halfpad deur die oggend was dit teetyd en spanne is geskommel volgens die puntetelling.
Voor hulle weer die kompetisie aangedurf het, is 'n "spider"-ronde gespeel waar Ralie Blignaut en Theo Coetzee die wenners was.
Teen middagete was die algemene gevoel dat die spanne moes verdaag om na die rugby tussen die Springbokke en die Italianers te kyk.
Punte is opgetel en The Warthogs het as oorwinnaars uit die stryd getree.
Die Camdeboo Hospice spreek hul dank uit teenoor alle borge, wat verseker het dat elke speler 'n prys en 'n sertifikaat van deelneme kon ontvang.
"Borge, ondersteuners, deelnemers, raadslede en personeel het moeite gedoen om van die dag 'n reuse sukses te maak. Elkeen word waardeer," se Van der Linde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’