NIEU-BETHESDA NUUS - Alhoewel 2022 by tye maar 'n opdraande stryd was, het die oorstroming van Nieu- Bethesda op Maandag, 12 Desember, een van die mees inspirerende stories van opregte omgee meegebring.
Carla Smit, inwoner van Nieu-Bethesda, onthou dat die dorpie die betrokke Dinsdagoggend doodstil was. "Ons eie koepelkelder was tot teen die dak gevul met modderwater nadat die heinings, hekke en klipmure deur die vloed platgevee is.
"Ons pizzeria, werkswinkel en motorhuis het heeltemal oorstroom. Maar ons eie skade was min in vergelyking met dorpenaars wat alles verloor het," vertel sy.
"Ek het met my Crocs deur dik modder rondom ons woning gesloeg en stelselmatig 'n reeks huise begin besoek waartoe ons toegang gehad het.
"By die tweede huis waar ek gestop het, die 1000 Stars-kompleks, was Lizelle Olivier in trane. Die noodsloot het hier sy walle gebreek. Die oorspronklike rivier is verby die dorp herlei, vandaar die noodsloot. Die modderwater het hier die ergste verwoesting gesaai. Albert en Lizelle se hele huishouding is verwoes. Hul een kat is deur die watermassa meegesleur. Langsaan het Danie Boneschans se yskas bo-op die halwe meter diep modderwater gedryf. Briony Lloyd se eenheid was geheel-en-al verwoes. Sy het ook haar kat vermis maar díé is gelukkig later bo-op die dak gevind. Hoe meer huise ek besoek het, hoe meer het ek besef hoe groot die omvang van die verwoesting was. 'n Nagmerrie. Ek het my ma gebel en gevra dat sy asseblief met 'n fles koffie en toebroodjies moet kom help. Sy en my suster het toe begin om Albert en Lizelle te help om modderbesmeerde huisraad uit te dra. My man en die span by ons gastehuis, The Bethesda, het begin modder opskep. Met hul mooie uniforms, naamplaatjies en stralende gesigte, het hulle ook ontbyt bedien sonder krag of water. Tussendeur het hulle ons pizzeria opgeruim wat 20cm onder water en met dik modderslik bedek was."
Die paaie is erg deur die vloedwater beskadig. Foto: Carla Smit
Opruiming
Smit het met hul bakkie mense van Pienaarsig af begin aanry deur water wat sowat 'n meter hoog was. By Die Winkel, die plaaslike algemene handelaar, het sy al die moppe en emmers beskikbaar, swartsakke en lappe gekoop en by 1000 Stars afgelaai. Intussen het Ryno Greeff en Carla se man, Ludolf Smit, 'n kragopwekker en dompelpomp gebring en begin water uitpomp.
Willem Kriel, 'n vriend en makelaar, het reeds donkernag uit St Francis gery en met dagbreek was hy daar om sy kliënte se skade te bereken - onder andere díé van Idil Sheard. Haar woning in Nuwestraat was 'n meter onder water. Genadiglik was haar kleindogter, Tammy James, daar om haar in die nag wakker te maak en by te staan. Dit was geen toeval dat Tammy daardie Maandag in die dorpie begin werk het en die nag van die vloed by haar 81-jarige ouma was nie. Fox Wolfaardt, hoofouderling van die NG Kerk op Nieu-Bethesda, het geskakel om bystand en hulp namens die kerk aan te bied.
Op die oorstroomde brug oor die Gatsrivier het Laura Dixon, gepantser met 'n graaf en waterstewels, vrou-alleen modder weggegrawe sodat die brug begaanbaar is vir voertuie. Ludolf Smit het ook dadelik 'n span van 16 werkers sowel as borge vir die arbeid gereël om die dorp se leivoor te begin oopgrawe.
Die dorp se water word voorsien deur 'n fontein. Omtrent 500m van die laaste kilometer van die leivoor, was toegespoel. Die manne het oor 'n tydperk van twee dae modder uitgegrawe. Die voor is erg beskadig, die reservoir was leeg, en die dorp was 24 dae sonder munisipale water. Plaaslike inwoners met boorgate het water aangebied en die elektrisiteit is herstel.
Die elektrisiën, Tinus Minnie, se dagboek was vol, maar met die tyding van die vloed, het hy sy planne uitgestel en gaan help met Nieu-Bethesda se elektriese uitdagings.
Bystand aan vloedgesteisterdes
Smit het begin navrae doen na vloed-geteisderdes se spesifieke behoeftes en mense het dit skaam-skaam bekendgemaak.
"Ek het die versoeke op die dorp se 'Pinboard' WhatsApp groep geplaas – 'n selfoon vir Briony, skoene en klere vir Lizelle, middagetes vir die voorwerkers en die opruimspan by 1 000 Stars ensovoorts. "Mense het met warm harte gegee. Etes was ook geborg deur restaurante op die dorp en flesse koffie en pizzas afgelewer terwyl weldoeners, Albert en Lizelle, huisvesting aangebied het. Victoria Nance het op haar beurt Briony gehuisves en etes verskaf sowel as borgskappe gewerf."
Smit het self ook individue gekontak vir skenkings vir die aandetes van die 1 000 Stars-inwoners. Die samewerking en bystand was oor die algeneem fantasties en ek wil graag almal bedank vir hul hulpvaardigheid hoe gering of groot, " het sy gesê.
Inwoners van die dorpie was meer as drie weke sonder munisipale water voordat Dr Beyers Naude-munisipaliteit verlede Vrydag 'n kennisgewing uitgereik het om te sê 90% van die sand is uit die kanaal verwyder. Water is toe uit die kanaal gepomp en reservoir-vlakke sou, na gelang van beurtkrag, vinnig styg. Die munisipaliteit vra dat inwoners egter steeds water spaarsaam gebruik.
Smit het Woensdag aan die Advertiser gesê dat gastehuise 'n swak seisoen gehad het. "'n Shack het intussen ook afgebrand en daar was nie 'n brandweerwa beskikbaar nie. Ons voel werklik versaak."
Die Advertiser sal volgende week 'n opvolgberig doen oor die situasie in Nieu-Bethesda.
Klipmure is deur die vloed platgevee.
Die vloedvlak by 1000 Stars.
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'