KAROO NUUS - Talle leerders in die Oos-Kaap eet hulle enigste maaltyd van die dag by die skool. Dit is sigbaar tydens skoolvakansies as baie skole se voedingsprogram tot stilstand kom en jong kinders danbegin bedel op straat.
Dit het ook nou aan die lig gekom dat die afgelope finansiële jaar se voedingskemafondse nie voldoende was om leerders by alle skole regdeur die jaar te voed nie.
Maar by ander skole word die sente gerek en selfs meer as een ete per dag verskaf.
LP Karabo Khakhau, DA se nasionale woordvoerder, het op 18 Augustus bekendgemaak dat die DA die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, se besluit om die uitreiking van 'n tender van R9,8 miljard te staak, verwelkom.
Hierdie tender sou verkryging vir die nasionale skoolvoedingsprogram (NSVP) onder 'n enkele verskaffer gesentraliseer het.
Khakhau sê dat elke provinsie tans sy eie NSVP administreer, wat ten minste een maaltyd per dag aan meer as 9,6 miljoen leerders verskaf.
Verlede jaar het beide die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal duisende leerders sonder etes gelaat en net twee weke gelede het die DA in Gauteng ontbloot dat duisende leerders óf honger ly óf karige maaltye gevoer word weens kommer oor 'n tender van R1 miljard. “Kaders kan nie eet terwyl kinders honger ly nie,” stel hy dit duidelik.
Graaff-Reinet Advertiser het met Hannes Meintjies, skoolhoof van Laerskool Hofmeyr, gesels waar die voedingsprogram, met dieselfde 59c per leerder per dag wat alle skole ontvang, vir hulle leerders daagliks van twee gebalanseerde etes voorsien. Hy is vol lof vir hul plaaslike verskaffer wat marknavorsing doen en sorg dat die regte etes elke dag beskikbaar is en vir die skool se bekwame kookspan. Die verskaffer ry ook produkte van plase aan waar boere soms oorskot het.
“By Laerskool Hofmeyr beskik ons oor ‘n leerder-ondersteunings-netwerk wat probleme soos honger aanspreek. Ek kan nie bevestig dat van ons kindertjies honger ly gedurende vakansies nie, maar ek kan wel bevestig dat die kos baie ywerig geëet word in die eerste week van elke kwartaal.
”Skoolvoedingskemas wag nou om te hoor hoe die finansiering van voedingskemas in die toekoms sal werk, nadat veranderinge onlangs aangekondig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’