HOFMEYR NUUS - Hulle is weer afgestof, uitgesuig, opgejack, deurgegaan, olie-afgetap, bakwerk- en bande lekker blink gepoets, vir die jaarlikse Hofmeyr Oukartrip wat op Vrydag 2 Mei vanaf die Victoria Boetiek Hotel in Hofmeyr weggetrek het op 'n onvergeetlike rit.
Vyftien manne het voorberei, gepak, padkos gemaak, warm baadjies uitgegrawe, genoeg lafenis in bottels en blikkies ingelaai, en vroeg gaan slaap op Werkersdag, 1 Mei.
Teen 08:00 die volgende oggend moes almal flink, fiks en fluks uit die vere opdaag om weg te trek op die beplande roete van tussen 465 km en 375 km, afhangend van hoe ver elke deelnemer van die dorp af woon.
Die voertuie was 'n versameling vanuit die verlede, en elkeen is met groot sorg voorberei om die rit te kon meemaak.
Johan de Beer het met sy 1984 model Nissan Safari, sy eie "vegskip" deelgeneem, en Johan Vermaak se "skip" was 'n 1983 380SE Mercedes.
Johan was ook die logistieke beampte wat alle roetes en besprekings beplan het.
Francois Stadler het weer vir "Slakkie" blinkgevryf en reggeruk, en die 1981 Isuzu 1.9 diesel was gerat vir die rit.
Simon Jansen het opgedaag in sy 1978 Cortina, 3-liter V6, met 'n 1973 F100 suspensie.
Oreste Boffa het met 'n 2002 Ford Bantam gery, en Piet en Etienne Roux was aan die stuur van Kippie Louw se groen 1974 Peugeot 404 stasiewa.
Troepie Pienaar het sy opwagting gemaak in 'n 1980 Chevrolet C10 Custom Deluxe. Hy sê sy is "Oom Poeding se Sweetness".
Alwyn Barabas het met sy 1968-1974 Series 2 Land Rover die roete meegemaak, terwyl Pieter Buys met sy betroubare 2015 Ford Ranger bakkie gery het.
Avontuurlike roete
Die roete is gewoonlik 'n logistieke nagmerrie, want baie van die voertuie is lankal nie meer gelisensieerd nie, en bekende roetes moes dus te alle tye vermy word.
Na 'n brekfis wat wraggies vir niks teruggestaan het nie, is daar tyd vir 'n fotosessie ingeruim.
Eindelik was dit tyd om te vertrek.
Die groep het vanaf die Victoria Boetiek Hotel in Hofmeyr op die Steynsburgpad uit die dorp gery tot by die T-aansluiting, waar hulle links gedraai en tot by Teebus gery het.
Hier het die ou voertuie van die teerpad afgeklim om te gaan besoek aflê by Bulhoek, waar Paul Kruger gebore is.
Die eerste ernstige uitdaging was 'n rit oor die Bulhoekpas - 'n gedeelte van die pas was reeds geruime tyd gesluit na 'n rotsstorting, maar Johan de Beer het gesorg dat 'n roete deur die gestorte grond en klip oopgemaak is vir hierdie geleentheid.
Die pas loop ook oor die plaas Sorgvliet, waar die eienaar, Deon Lategan, spesiaal toestemming verleen het dat die voertuie daardeur kon ry.
Die Bulhoekpas is op sigselwers geskiedkundig, want dit is gebou toe die Gariepdam in die 1970's aangelê is.
Hierdie was 'n redelike sterk klim vir die voertuie, maar niemand was haastig nie en met 'n bietjie ekstra sorg kon almal bo uitkom.
Bo-op die pas het die voertuie by die Skietnekpad verbygery, waarna hulle op die Colesberg grondpad se afrit links gedraai het.
Hulle het teen Knelhoogte af gekruie en net anderkant Ockert Oosthuizen se plaas regs gedraai om teen Boesmanspoort af te beweeg.
Onder Boesmanspoort het die roete na links geswenk by die T-aansluiting en van daar na die teerpad, wat die klomp tot by die Gariepdam geneem het.
Gariepdam
Daar het die spanne hul pieknieke a'la Mammie geniet, en dit was nie lank nie, of almal het van almal se huiskos kon proe.
Die middag het almal heerlik op die dam rondgevaar aan boord van die toeristeboot, Queen of the Karoo.
Vir aandete is daar vir hulle biefstukke gebraai en natuurlik was dit 'n gesellige kuier.
Die chalets by die Gariep Eco Reserve het 'n heerlike nagrus verseker.
Dag twee
Saterdagoggend, 3 Mei, het hulle oor Norvalspont na Colesberg gery, en van daar die Oorlogspoort grondpad geneem - by Oorlogspoort en Macasserfontein verby - en terug tot by Schoombee, waar hulle weer die grondpadroete terug kon neem tot in Hofmeyr.
So hier en daar moes daar 'n enjinklap gelig word om na 'n geringe foutjie te soek, en soos te wagte, was sommige van dié ou dames nie meer lus vir die moeite en uitputting nie.
Slegs een is teruggesleep!
Deelnemers het blykbaar twee jaar se lag opgebruik. Niemand kon sê of daar genoeg geslaap is nie, maar daar is blykbaar genoeg geëet en almal was dit eens dat geeneen dors was nie.
Daar is 'n duidelike foto-rekord van elke kuiergeleentheid, en video's spreek van die heerlike gees waarin die Hofmeyrmanne kon kuier.
Die moeders tuis moes maar huishou en opsnork soos nodig met die plaassake, maar dis Hofmeyrvroue, hulle kan!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’