HOFMEYR NUUS - Die klein gemeenskappie in Hofmeyr het verlede naweek met groot vreugde alles ingesit om dié dorp se 150ste verjaarsdag te vier. En wat 'n fees was dit nie!
Hofmeyr, eertyds Maraisburg, is in 1874 in die aktekantoor as 'n nedersetting geregistreer na onderhandelinge deur Jacobus en Daniël Marais met die NG Kerk in Burgersdorp.
FOTOGALERY: Hofmeyr se Erfenisnaweek
Die plaas Boorfontein, 'n gedeelte van Pramkoppenleegte, is gekoop vir die ontwikkeling, net mooi 'n dagreis per ossewa van Cradock, Steynsburg, en Tarkastad en net 'n bietjie verder van Middelburg, Burgersdorp en Molteno.
Aanvanklik was daar net 'n staning waar ossewaens en trekvee kon oornag, 'n polisiekantoortjie en 'n kantoor waar tolfooie betaalbaar was.
Twee jaar na die dorpstigting het die kerk afgestig van die NG Kerk in Burgersdorp, waarna 'n kerk in 1876 gebou is. Die kerk het spoedig te klein geraak vir die groeiende gemeenskap en die huidige koraalpienk kerk is in 1933, midde die depressie, gebou. Op dieselfde dag wat dit ingewy is, is dit kontant klaarbetaal.
In 1887 is 'n skooltjie gestig en die skoolgebou is opgerig in 1912.
Erfenisnaweek 'n fees
Die afgelope erfenislangnaweek is reeds maande vooruit geoormerk vir die fees en gastehuise, lodges en verblyf op plase het nie plek vir 'n muis gehad nie. Talle plaaslike inwoners het gaste tuis ontvang en oudleerders het by hul ouers gekuier.
Op Vrydag 20 September het oudleerders van Hofmeyr Hoërskool, nou Hofmeyr Laerskool, die skool besoek en op hul spore teruggestap. Skoolhoof Hannes Meintjies het moeite gedoen om talle kosbare artikels uit die skool se argiewe op te diep vir 'n uitstalling in die opgeknapte personeelkamer.
Die reuniedans is Vrydagaand in die skoolsaal aangebied met Blackie Swart as gaskunstenaar. Terwyl biefstukke buite gebraai is, in ysige koue, het die 180 gaste gekuier en sondes, skades en skandes onthou. Die vlugvoetiges het gedans dat die biesies bewe en vreugde het botoon gevier.
Saterdagoggend teen 09:00 was die park op die plein gevul met vrolike stalletjies. Varsgebakte pannekoeke, melktertjaffels, sosaties, en braaiwors het groot aftrek geniet. Bevrore skaapvleis en tuisgemaakte items is spotgoedkoop verkoop. Die weer het saamgespeel en daar is gekuier tot die tafels leeg was.
Saterdagaand was voorwaar die hoogtepunt toe 'n skouspel van plaaslike talent opgetree het in die skoolsaal. Die helfte van die dorp se inwoners het opgetree, terwyl die res die saal, tafels, etes en bediening moes hanteer.
'n Blomme-, orrel-, genade-, belydenis-, en vreugdefees is Sondagoggend om 09:00 in die kerk gehou, waar die orrelspel deur Willem van Heerden en die preek deur ds. Ferdi Gouws, hoogtepunte was. Nasie Vermaak, vierde geslag van dié familie, het sy geloofsbelydenis afgelê met massas blomme in die agtergrond. Die fees is afgesluit met koek en tee om vir oulaas 'n koesterkuier te geniet.
• Die Graaff-Reinet Advertiser het die hele naweek foto's geneem van families en oudleerders wat heel moontlik nooit weer as 'n groep bymekaar sal wees nie.
Sowat 230 gaste het aangesit vir 'n onvergeetlike skouspel. Foto: Teresa Opperman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’