HOFMEYR NUUS - Die sportgemeenskap van die Hofmeyr-sportklub, asook die wyer gemeenskap van rolbal- en tennisspelers wat gereeld op Hofmeyr in aksie was, het met hartseer verneem van die dood van die 75-jarige Nomlose Elsie Gqoboka.
Elsie het sedert 1972 as toesighouer van Hofmeyr-sportklub opgetree en hoewel sy vir baie jare nie meer aktief gewerk het nie, het sy gereeld na die klubhuis gestap wanneer daar sportgeleenthede was.
"Die sportmanne en -vroue was vir haar soos haar eie familie. Hulle het haar bederf met heerlike eetgoed en geskenkies.
Oor Kerstye het ons heerlik saam gekuier wanneer sy ons weer bederf het met haar bederfgoed," vertel haar dogter Thandeka.
"Ons ma het Vrydag 10 September van haar huis na die poskantoor gestap, sowat drie kilometer. Daar het sy in die ry gaan staan vir haar Sassa-uitbetaling. Baie ure later het sy in die ry inmekaargesak en die ambulans van Hofmeyr het haar kom haal. Sy is later die middag oorlede."
Sy was altyd baie trots op ons, haar drie dogters. Vuyiswa, Zingisa en Thandeka. Sy laat ook vier kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'