HOFMEYR NUUS - Hofmeyr, met sy klein inwonertal hou nog elke jaar 'n feestelike skou. Dié jaar se skou is van 21 tot 23 Maart by die skouterrein buite Hofmeyr gehou.
Almal wat hande en voete het, was betrokke en soos dit in Hofmeyr gaan was dié skou weer 'n groot gemeenskapsprojek.
Die terrein is sowat twee weke voor die skou weer netjies gemaak, en die baan is gereed gekry vir die perdevertoners, die skoulokale is opgeruim en die grasperke is gesny.
Die kleinvee- en beesskou was reeds teen Donderdag afgehandel en goed ondersteun.
Die jaarlikse Bieliemielie-kompetisie het ook talle inskrywings gehad. Die kompetisie, waar vyf mieliekoppe ingeskryf word, en die wenners bepaal word uit die mielies met die meeste rye en meeste pitte, het altesaam 23 inskrywings gekry.
Vrydagaand se skoudans en gasoptrede deur Leslie Carbutt, met 'n gesellige steakbraai, is in die groot saal op die terrein aangebied. Saterdag het talle perdryklasse plaasgevind onder die bekwame bestuur van Anike Louw en beoordeling deur Hugo Visser vanaf Piketberg.
Talle stalletjiehouers het, soos altyd, heerlik saam met die gemeenskap gekuier. Die vroue van die NG Kerk het die skoukombuis hanteer, terwyl die Vroue-landbouvereniging die pannekoekstalletjie beman het. Die troeteldierskou het weer goeie aftrek geniet veral deur die kinders.
Beeste se uitslae as volg was:
- Verse 12 tot 18 maande - 1ste Jimmie Vermaak
- Verse 18 tot 24 maande - 1ste Troepie Pienaar
- Beeste - groot kampioen - 1ste Troepie Pienaar
- Reserwe kampioen - Jimmie Vermaak
Bieliemielie-kompetisie
- Individuele mieliekop met meeste rye: Sueanné Vermaak (12) van Groenkragboerdery - mieliekop met 24 rye
- Individuele mieliekop met meeste pitte: Philip Henning Junior - mieliekop met 990 pitte
- Vyf koppe met meeste rye: Sueanné Vermaak - altesaam 104 rye
- Vyf koppe met meeste pitte: Jimmy Vermaak - 4 256 pitte
- Grootkampioen is Sueanné Vermaak.
Morné Bosch was weer die voorslag braaier by die Hofmeyr-skou.
Lexi Fourie (11) op haar perd, Jeep, het in die Fancy Dress-uitdaging met haar Viking-uitrusting gewen. Jeep het ook die Hofmeyr Ope afdeling in die driegangkampioenskap gewen.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’