GRAAFF-REINET NUUS - Die koraalpienk NG Kerk in Hofmeyr kry kort voor Kersfees 'n nuwe laag verf. Die bekende landmerk is in 1933, midde die grootste depressie, ingewy.
Dis presies waar die gemeenskap van Hofmeyr saamgestaan het, soos hul steeds doen.
Pannekoeke, blomme, jaffels, groente, plaasvleis, eiers en slaghoenders is destyds verkoop en die boukontrakteur kon met die inwyding kontant betaal word.
Die verwery is 'n groot opdrag en uitdaging, en Bo-Karoo Verfkontrakteurs van Petrusville is gekontrakteur om dié werk te doen. Louwrens Louw, die eienaar van dié kontrakteursfirma, is heel gemaklik met die reusetaak.
"Ons verf sedert Mei 2001 die kerk en het ook in Oktober 2012 die kerk geverf.
Die totale muur- en toringoppervlakte beloop 1 180 vierkante meter, die dak is 'n volle 840 vierkante meter en die toringhoogte tot by die rigtingaanwysers is 27,5 meter.
Die kerkhorlosie het 'n deursnee van 1 480 mm. Elkeen van die vier horlosies se uurwysers is 440 mm en die vier minuutwysers is 920 mm lank," vertel Louw.
Tussen agt en nege werkers is daagliks op die steiers en werk vorder fluks. Die grootste skade aan dié gebou was blootstelling aan die Karooson, wat die vorige koraalpienk verflaag laat verbleik het en mettertyd blase veroorsaak het.
Die rede waarom die kerk baie jare terug koraalpienk geverf is, is eenvoudig omdat die witgeverfde kerk in elk geval baie vinnig roospienk verkleur het as gevolg van die rooi skaliestof.
Die kerk is telkemale in 'n oneweredige pienk skakering verkleur. Die koraalpienk kerk is egter ook 'n massiewe toerismetrekpleister.
Die kerkhorlosie het onlangs ook een gesig se wysers verloor. Plaaslike sakeman, Donovan Downey van Victory Motors, het nuwe wysers vir die gesig - 27,5 m bo die grond - geskenk.
'n Rukkie terug het die horlosie kop verloor en toe nuwe intrekkers kla dat dié klok hul heel van spoor af laat gaan, want 3-uur snags is met 10 slae aangekondig, het die plaaslike elektrisiën, Willem Hänker (65), nog vaardig en waardig tot bo in die kloktoring geklim, om dié horlosie weer in slag te bring.
Die watertoevoer na die kerktuin is ook opgradeer en sal binnekort weer in volle blom staan.
Hofmeyr se koraalpienk kerk behoort voor Kersfees weer in volle glorie herstel te wees, slaggereed vir al die fotograwe wat haar elke jaar kom afneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’