HOFMEYR NUUS - Die klein gemeenskappie van Hofmeyr het op Vrydag 17 Februarie van ‘n geliefde seun, kleinseun, eggenoot en vriend afskeid geneem tydens ‘n hartroerende plegtigheid.
Sowat 180 mense het die troosdiens van André Herselman (31) in die NG Kerk bygewoon.
André het as Hofmeyr-plaasseun grootgeword op die plaas Wilgepos, waar hy ook gesterf het. Selfs voordat hy skool toe is, het hy reeds ‘n groot belangstelling in reptiele gehad, en het gereeld slange, akkedisse en likkewane gevang en huis toe gebring.
Na voltooiing van sy studies op CTI in Bloemfontein, werk hy op talle passasierskepe, aanvanklik as fiksheidsinstrukteur en later ook as kunshandelaar.
Hy het hom as afslaer kwalifiseer, ‘n uitstekende kunskennis opgedoen en is benoem as top jong afslaer in 2021.
Hy het sy vrou Marisha op ‘n skip ontmoet en in 2018 getrou. Hulle het 2 dogtertjies.
André het sy eie sekuriteitskamera-besigheid van die plaas af bedryf en saam met sy pa geboer – onder andere ‘n grootskaalse skaapvoerkraal met welslae begin.
André is Woensdag 8 Februarie dood en geen gemenespel word vermoed nie.
Hy word oorleef deur sy grootouers, André en Martie Herselman, sy ouers Willem en Alta Herselman, sy vrou Marisha en hul dogters.
Die Herselman-egpaar op hul troudag, 3 Februarie 2018.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'