HOFMEYR NUUS - Hofmeyr-landbouvereniging het verlede week twee gesogte toekennings ontvang tydens die Agri Oos-Kaap streekkongres in Gqeberha.
Die lede is geloof vir hul uitstaande toewyding en verbintenis tot uitnemendheid vir die invordering van meer as R150 000 ledegeld per jaar en is ook aangewys as beste landbouvereniging in streek 3. Die toekennings is deur hul trotse voorsitter, Ettienne Roux, ontvang.
Die wen is welverdiend want die vereniging het die afgelope finansiële jaar gewoeker in Hofmeyr, asook omliggende gemeenskappe.
Die boere het soos een man saamgestaan om die onwettige stortingsterrein by Hofmeyr se ingang op te gradeer, en het ook gesorg dat twee groot nuwe stortingsgate, binne bereik van die inwoners, gemaak word.
Boere en hul vroue was ook inisieerders van vele mooimaakprojekte in die dorp.
Die boere ontspan ook saam en het 'n rit met hulle oudste plaasvoertuie na Post Retief geneem, asook 'n dag op die Gariepdam geniet, na 'n besoek aan medeboere en besienswaardighede.
Opleiding in ongediertebeheer is aan plaaswerkers gegee asook opleiding aan veewagters.
Die boere het gehelp om leerders by skole te kry tydens die staking van vervoeroperateurs en maak regdeur die distrik sommer ook self die grondpaaie reg.
Van die lede van die landbouvereniging was betrokke by die beheer van Satansbos, deur kewers vry te laat om effektiewe beheer toe te pas.
Nadat 'n ingenieur in Hofmeyr-distrik op 'n plaas vermoor is, het boere vir twee weke patrolliewerk gedoen en 'n plaaslike jong boer het die moordenaar vasgetrek.
Hulle kon ook spog met twee jong boere wat genomineer is as Agri Oos-Kaap Jongboer van 2023.
'n Boer het sy trekker beskikbaar gestel sodat die begraafplaas netjies gemaak kon word en boere het hierna die area met gif gespuit om onkruid te beheer.
Nie alleen het 'n boer uit die distrik in 1958 - die stigtingsjaar van Hofmeyr-landbouvereniging - die oorspronklike Hofmeyr-skedel op sy plaas gevind nie, maar 'n plaaslike boer het vanjaar gesorg dat die replika van die oerskedel terugkom dorp toe.
Hofmeyr-landbouvereniging hou nog elke jaar 'n suksesvolle skou en staan ook saam om toerisme te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’