KAROO SPORTNUUS - 'n Span van ses atlete het saam met hul spanbestuurder, Charles Jordaan, van Hofmeyr na De Rust gereis om aan die Optimum Meiringspoort-halfmarathon op 14 Oktober te gaan deelneem.
Vyf atlete, Ronel Gouws, Tattie Donian, Rolene Bowker, Elna Jordaan en Dadda de Jager het die 21,5 km gestap en betyds klaargemaak om elk 'n bronsmedalje terug te bring.
Ds. Ferdi Gouws (72) van Hofmeyr het dieselfde 21,5 km gedraf en ook 'n bronsmedalje ontvang.
"Dit was 'n heerlike sonskyndag, en ons was weereens beïndruk deur puik reëlings voor- en na afloop van dié geleentheid. My doel was om na die Hofmeyr-span om te sien, maar hulle het uitstekend gevaar," sê Jordaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’