HOFMEYR NUUS - Tannie Susan Masimila, alombekend as ouma Nonnie, is die afgelope week op haar 90ste verjaarsdag oorlede.
"Vir almal wat haar geken het, was sy 'n borrelende voorbeeld van lewensvreugde. Sy kon met 'n klokhelder lag almal om haar opbeur," vertel Anne Nel, haar buurvrou vir baie jare.
Soos wat die jare verbygegaan en ouma Nonnie se gesondheid en sig agteruit gegaan het, het sy al minder rondbeweeg. Maar sy het ten minste een maal 'n maand haar seun Chris, wat by haar ingewoon het, gedwing om haar te vergesel tot by Hofmeyr Hugs of Hope, waar sy heerlik by die tafel gesit en kuier het.
"Wat is hier vir my?" was haar gunsteling vraag. "Sy het graag nuwe nagklere en 'n lekkerny gesoek," vertel Estelle Kruger, vloerbestuurder by die organisasie. Omdat sy later baie swak kon sien, het sy ook gevra: "Wie is nou hier by my?"
Hettie Hanker, kombuisbestuurder by Hofmeyr Hugs of Hope. sê hulle het haar in die afgrond in bederf, "bloot omdat sy altyd so dankbaar was".
"Sy sou spesiaal afstap Hugs toe as sy hoor daar is vetkoek en stroop en dan het sy haar sommer in die kombuis kom tuismaak en dan ook 'n pak beskuit gekoop vir die week wat voorlê."
Die vroue van Hofmeyr Hugs of Hope kon haar deur die grendeltyd besoek met 'n spesiale permit en sy was altyd so bly as daar 'n warm ete, of vars produkte afgelewer word. Sy was met grendeltyd reeds bedlêend en kon nie meer uit die huis gaan nie.
"Die vroumense by Hofmeyr Hugs of Hope bring vir my lekker kos, maar die belangrikste is dat hulle altyd vir my bid," het sy graag vertel aan almal wat by haar 'n geselsie kom aanknoop het, vertel Anne Nel.
Ouma Nonnie word eersdaags in Port Elizabeth ter ruste gelê Haar lewensvreugde was deurgaans aansteeklik.
Haar seun, Chris, sal in haar huis aanbly.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'