GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool het onlangs hul gr. 10-landbouwetenskapklas op ’n praktiese uitstappie geneem na die sybokhaarmakelaar House of Fibre, asook BKB se wolstoor in Gqeberha.
By House of Fibre is leerders deur elke stap van die proses geneem – van ontvangs en weeg tot verwerking en bemarking.
Leerders het ook ’n oorsigvideo gesien van hierdie stoor, wat ’n sleutelrol speel in die sybokhaarbedryf.
House of Fibre het die leerders ingelig rondom hul verbintenis met Textile Exchange se Responsible Mohair Standard (RMS), wat toewyding aan die welstand van diere, die gesondheid van die grond en die welstand van boerderygemeenskappe voorop stel.
House of Fibre het ook hul ouditprosesse oorgeskakel na SAMIC, 'n eksterne ouditliggaam wat aanspreeklikheid en deursigtigheid omarm.
By BKB het die klas waardevolle insig gekry in die ontvangs, sortering en toetsing van wol, met die geleentheid om self aan die wol in verskillende wolbakke te voel en leer hoe dit op fynheid en skoonopbrengs getoets word.
Die kinders - die boere van die toekoms - het gehoor dat die BKB sy mense op prys stel en sy onderhandelinge met integriteit doen.
Die groep is al vir meer as 100 jaar 'n toonaangewende natuurlike veselmakelaar en veeveilingonderneming wat in dié tyd ook internasionaal uitgebrei het.
Hoër Volkskool het hul dank uitgespreek teenoor Pierre van der Vyver (House of Fibre) vir die toer, en aan Denica van Zyl en Werner Olivier (BKB) vir die toer én die lekker warm sokkies wat aan leerders geskenk is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’