GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool mag 'n kleiner skool wees, maar dit is beslis 'n trotse skool, veral nadat redenaars vanaf Graaff-Reinet gereis het om in Durbanville aan die "Nou Praat Jy"-redenaarskompetisie te gaan deelneem.
Op Woensdag 25 Junie het talle topskole vanoor die land aan hierdie kompetisie by die Curro Durbanville se Kultura-fees deelgeneem.
Vanjaar se onderwerp was "Afrikaans, 'n taal van kleur en klank".
Die formaat het vereis dat twee sprekers gesamentlik 'n toespraak lewer.
Hoër Volkskool se sprekers, Mikha Enslin (gr. 11) en Mia Prinsloo (gr. 10), het die Kaap oorrompel met hul visie vir Afrikaans en die waardes van hul skool op 'n kleurvolle wyse oorgedra.
Hoër Volkskool van Graaff-Reinet is as die algehele naaswenner aangekondig, met Hoërskool Stellenbosch die algehele wenners.
Hierdie besonderse prestasie is die vrug van harde werk, toewyding en 'n onblusbare liefde vir Afrikaans.
Die hele Volkskool-familie is ongelooflik trots op die sprekers wat die skool se naam tussen soveel groot name hoog gehou het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’