MIDDELBURG NUUS — Die ‘ou tronkgebou’ soos baie Middelburgers dit noem, se regte naam is inderwaarheid eintlik die Sipierswoning.
Die Hoofsipier, Mnr Fincham, was die eerste bewoner van die pragtige klipgebou langs die destydse tronk.
Hierdie geskiedkundige gedenkwaardigheid in Meintjiesstraat, Middelburg waar Middelburg se Toerismekantoor (Publisiteitsvereniging) vanaf 1989 tot 2016 gehuisves was, is tot onlangs deur Handri Vorster van die DA benut.
In 1989 het die Sakekamer die gebou gekoop en opgeknap en is dit merendeels vir administratiewe doeleindes aangewend, maar nou gaan hierdie bekende baken by die ingang van Middelburg ‘n nuwe jassie aantrek en ‘n warm hart binne kry wanneer hy ook ‘n naamsverandering gaan ondergaan...
Die Kliphuis, onder bestuur van Charmaine Coetzee, open amptelik hul deure op 1 Augustus! Vir die eerste keer gaan hierdie pragtige klipgebou nou omskep word in ‘n restaurant, kindervermaak, geskenkwinkel en sommer net ‘n lekker warm verwelkomings- en bymekaarkomplek vir inwoners en besoekers aan Middelburg.
Volgens Hennie Coetzee is daar ongelukkig nêrens enige planne van dié ou tronk beskikbaar nie. Aangesien daar destyds ‘n verbod op die neem van foto’s van staatsgeboue was, is daar ook nie foto’s van die tronk self beskikbaar nie (behalwe een foto wat tydens die 1974 vloed in Middelburg geneem was, waar die tronk in die agtergrond is).
In 1859 het hierdie gebou £1603 gekos om te bou. Die oorspronklike tronkgebou is laterjare gesloop.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'