ABERDEEN NUUS - Aberdeen het drie begraafplase en die een in Wyk 7 grens direk aan een van die hooftoegangsroetes vanaf Willowmore.
Oor die afgelope klompie jare het dit van ‘n rustige sipresgevulde lushof, stelselmatig ontaard in een van die seerste oë wat enige reisiger kan begroet. ‘n Groot gedeelte van die wit ringmuur het ook omgeval en stuk-stuk verdwyn.
Die Aberdeen-boerevereniging (BV) en die Aberdeen Residents and Ratepayers Association (ARRPA) het in Augustus ‘n opknap- en herbou-operasie van stapel gestuur.
Norette Janse van Rensburg, sekretaresse van die BV, sê hulle het ‘n versoek aan lede gerig om boumateriaal of kontant te skenk om die regmaak van die muur, asook die herbou van ‘n 64m-lang stuk wat omgeval het, te begin. “Tussen ons en ARRPA het ons skenkings ontvang van allerlei boumateriaal, water en kontant. Weliswaar nog lank nie genoeg om al die werk te doen nie, maar intussen gaan ons aan,” sê sy. Werkers maak ook seker dat alle gebruikte stene wat hulle kan red, skoongemaak en herbruik word.
Sedert die begin van die projek het nog BV- en ARRPA-lede betrokke geraak, asook ander inwoners. “Saamstaan is die leuse wanneer positiewe gesprek in aksie beleef word," sê Van Rensburg. Dit is nie net fondse om die nodige materiaal aan te koop wat ‘n uitdaging is nie, maar die daaglikse arbeid en organisasie verg bontstaan. “Daar is nie enige waterpunte beskikbaar nie, so water moet aangery word. Geen van die boumateriaal of toerusting kan oornag agtergelaat word nie. Alles en almal moet daagliks karwei word.”
Die BV en ARRPA is innig dankbaar vir al die ondersteuning en positiewe kommentaar wat die projek ontlok. Mense wat hul weg oopsien om nog arbeid, materiaal of kontant by te dra, is welkom om met die BV of ARRPA kontak te maak. “My droom is dat, in hierdie poging om ons dorp te verfraai, ons lewendes hande sal vat om diegene wat voor ons was met hulle laaste rusplek hier, te eer,” sê Van Rensburg.
Die trotse bouspan wat onvermoeid en onverpoosd bou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’