GRAAFF-REINET NUUS - Dit was 'n inval, amper soos die destydse Woodstock, en iets wat Hofmeyr nog nooit beleef het nie.
Hippies vanuit ses verskillende windrigtings het dié dorpie onlangs, binnegestroom en daarna het almal by die Hofmeyr-sportklub saamgetrek vir 'n aand van vele vreugdes.
Hofmeyr-boerevereniging se afsluitingsfunksie was weereens 'n aand om nooit te vergeet nie.
Die plaaslike winkeltjie by Hugs of Hope was reeds weke vooraf versoek om hippiekleredrag bymekaar te maak en talle hippies kon daar geholpe raak.
Ander gesinne het blitsvinnig leer knoopdoop, en sommige het sommer pleinweg T-hemde met spuitverf toegetakel. Selfs die kleinspan kon met betakelde T-hemde spog.
Musiek uit die hippie-era het gespeel en al die gaste was in 'n feestelike luim. Aan vrolikheid het dit nêrens te kort geskiet nie en vrede, met die tradisionele teken, sowel as vreugde, was aan die orde van die dag.
Tot die plaaslike predikant het "Make love, not war" aanbeveel!
'n Biefstukete, voorberei deur plaaslike hippies, het niemand honger gelaat nie.
Hippies het by die busvragte in Hofmeyr opgedaag om te kom feesvier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’