KAROO NUUS - Stefan du Plessis, voorsitter van Hofmeyr-landbouvereniging sê dat dit weer daardie tyd van die jaar is waar veediefstal begin kommer saai in elke boer se agterkop. Volgens hom bring die feesseisoen baie mense na die platteland wat vleishonger is, hulle het geld en hulle soek vleis.
"Dit is elke jaar 'n realiteit en al wat werklik daaraan gedoen kan word, is om aktiewe beplanning te tref sodat risiko's verminder kan word om dit so moeilik as moontlik vir veediewe te maak," sê du Plessis.
Hy voer ook aan dat veeboere reeds onder baie druk is met swak prys vir hul produkte en stygende rentekoerse.
"Hierdie is 'n nog groter motivering om dit wat joune is te beskerm," beklemtoon hy.
Wenke om die veediefstal te bekamp:
- Maak seker dat alle vee volgens wet getatoeëer is en bees gebrandmerk word.
- Daar kan ook egter na addisionele hulpbronne gekyk word soos die AIMS (Agriculture Information Management System)-oorplaatjies wat by Agri Oos-Kaap bestel kan word. Die oorplaatjies word met 'n unieke nommer en enige ander inligting wat verkies word, gedruk. Du Plessis sê dat hierdie oorplaatjies in die toekoms die norm gaan raak.
- FarmRanger maak gebruik van GPS-halsbande wat op skaap in troppe geplaas kan word en wanneer daar buitengewone aktiwiteit in die trop is, word 'n sensor geaktiveer.
- Maak gebruik van hoe risiko kampe tydens donkermaan.
- Ry patrollie saam met jou bure om sigbare polisiëring van paaie te bewerkstellig.
- Monitor paaie in en om die dorp en rapporteer enige verdagte voertuie aan.
- Belê in nagsigtoerusting wat gebruik maak van termiese opsporing.
- Let op na dinge wat uit plek lyk soos drade wat geknip is, ‘n hemp of ‘n plastieksak wat in ‘n bos versteek is, "dit kan bakens na ingaanplekke aan voornemende slagters wees".
- Probeer om te bepaal wat die veedief beplan, elke dief het sy spesifieke resep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’