MIDDELBURG NUUS - Die organisasie "Hands-on Middelburg Karoo" se mikpunt is om volhoubare verandering in Middelburg en die omliggende gemeenskappe in die Oos-Kaap te bewerkstellig.
Met sy verskeidenheid vrywilligers uit verskillende agtergronde is hier geen tekort aan vindingrykheid en inisiatief nie.
Een van die onlangse projekte wat hulle aangepak het, was die skoonmaak van 'n onwettige stortingsterrein in die stormwatersloot agter Buitekantstraat en Vorsterweg.
“Hoe meer dae, hoe meer dinge, en elke probleem het ’n oplossing,” sê Janine Veldsman, sekretaresse van die organisasie.
“Dit bly egter ook elkeen se verantwoordelikheid om voortdurend opvoeding te gee oor die beheer en bestuur van wettige stortingsterreine, en dat elke leë stukkie veld of sloot nie as stortingsterrein kwalifiseer nie, veral nie as dit dan deur ander lede van die publiek opgeruim moet word nie.
Niemand in Middelburg leef op 'n eiland nie.”
Sy sê die dorp kan soveel beter wees as almal verenig en werklike verandering bring.
“Ons is op mekaar aangewese, en saam kan ons ’n drastiese verskil maak in elkeen se daaglikse bestaan.
Ons sien dit reeds gebeur voor ons oë en ons is opgewonde om dit met julle te deel.”
Veldsman bedank almal wat betrokke is en elke inwoner se bydrae wat die skoonmaakwerk moontlik maak in Middelburg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’