KAROO NUUS - By Huis Welverdiend in Jansenville, waar die ringmuur onlangs prentjiemooi beskilder is vir die Dorp-van-die-Jaar inskrywing, het die inwoners ywerig gestem vir hulle dorp, maar ook hope pret en plesier gehad.
"Op Vrydagmiddag, 14 Junie was daar 'n rolstoelwedren gehou, deur Huis Welverdiend se gange en dit was een groot lekkerte," sê Leoné Mulder, die bestuurder van die tehuis.
"Die rolstoelwedren het gesorg vir baie lag en baie pret! Ryers is van die beginpunt af aangehelp en met die hand weer 'n bietjie woema gegee, Ek kan egter meedeel dat my span in 'n langer tyd, maar op 'n heel eerlike manier klaargemaak het," vertel Mulder.
Daar was toe ook 'n uitdaging aangebied waar 'n tafeltennisballetjie op 'n papierglasie gebalanseer moes word. "Hierdie speletjie het vir groot konsentrasie by deelnemers en baie opwinding by juigende toeskouers gesorg," sê sy. Nog 'n aktiwiteit wat ook baie opwinding veroorsaak het, was die kuns om 'n opgeblaasde ballon met "pool noodles" in die lug te hou.
"Nadat talle ruim donasies aan Huis Welverdiend geskenk is om die inwoners wat 'n klerenood ervaar te help, kon ons vir ons inwoners pragtige warm klere, linne en komberse gee," vertel Mulder.
"Ons ‘kom-pluk-'n-jas’-projek het vir groot knoppe in almal se kele gesorg. Ons het al die klere en komberse wat ons nie kan gebruik nie by Kwaza-kliniek oor die heining gaan hang en die gemeenskap kon vir hulle kies wat hulle wou hê," sê sy.
Die flinkvinger-vroue van die damesgroep, onder leiding van Rhona Koetaan, gee elke Woensdag alternatiewelik by Brugstraat-kliniek asook die Kwaza-kliniek sop vir die pasiënte wat in die rye sit en wag op kliniek-afsprake. Huis Welverdiend het dit ook goed gedink om 'n paar bottels-van-hoop te vul en aan hulle te oorhandig. Hierdie bottels voed 'n gesin van ses, met een gebalanseerde maaltyd.
"Huis Welverdiend is deurgaans afhanklik van donasies vanuit ons gemeenskap; hulle stel nie teleur nie," sluit Mulder af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’