NIEU-BETHESDA NUUS - Die jaarlikse Pump Palooza Pampoenfees het weer hierdie jaar groot belangstelling gelok, en pampoene van oral is na die Tot Hier-toe Padstal aangery vir die kompetisie wat op Saterdag 19 April aangebied is.
Die organiseerder van die kompetisie, Chrissie Swartz, sê die aanbiedinge het 'n 3 km-pretstap, 'n paaseiersoektog vir die kleinspan, en 'n veiling aangebied na afloop van die kompetisie ingesluit het, en kos en drinkgoed was volop.
Die gaste is deurentyd vermaak met agtergrondmusiek en kunstenaars wat kom optree het, en daar was verskeie stalletjies.
Hierdie jaar het Paul Schoeman weggestap as wenner met die grootste pampoen wat ingeweeg het teen 232 kg.
Hy behaal ook die tweede plek met nog 'n lekker groot pampoen. JP Steynberg van Ganora het die derde plek behaal.
Die fees sou nie moontlik wees sonder puik borge nie, en Swartz bedank die besighede in Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda wat die kompetisiepryse met 'n oop hand geborg het: Dippies Motors in Graaff-Reinet, Kamdeboo Supermark, Postnet, N9 Onderdele, BKB, Thys van Tonder van VIrbac, Zalig in Nieu-Bethesda, Bruno's in Nieu-Bethesda, Drostdy Winery, Wolff Johnson, SPAR Graaff-Reinet, Shargo Shop, Supa Quick Graaff-Reinet, HiQ Graaff-Reinet, Ina Botha, Chargo Padstal en Peter Plumstead.
Die Groot Vyf
Daar is vyf pampoenvariëteite wat makliker tot massiewe pampoene groei en gewoonlik vir kompetisies van hierdie aard kwalifiseer.
Die pampoene met hul kenmerkende oranje kleur is teen herfstyd gereed vir pluk.
Die Kratos pampoen lewer dikwels die grootste en swaarste pampoene, gevolg deur die Cronus pampoene wat uitgeken kan word aan die lengte van die ranke.
Suid-Afrikaners is ook baie lief vir die Gladiator pampoene, wat nie so vatbaar is vir roes soos die ander variëteite nie.
Gladiators word na oestyd uitgeken aan hul besondere lang plukstele wat dit makliker maak om die pampoene te dra.
Die Sekretariaat pampoen is baie donkerder van kleur, maar hoewel dit ook gewoonlik 'n ronde vorm het, soos al die oranje pampoene, is hierdie variëteit effens platter.
Die Sekretariaat het net 'n gemiddelde weerstand teen roes, en dra baie meer pampoene per rank, wat dus vereis dat pampoene uitgesnoei moet word wanneer 'n ekstra groot, swaar pampoen vir kompetisiedoeleindes gekweek word.
Die vyfde variëteit is die Ares Pampoen, wat herinner aan die vorm van 'n waatlemoen, maar wat regop staan.
Hierdie tipe pampoene word gereeld opgemerk by pampoenkompetisies en pampoenskoue in die Suid-Kaap.
Pampoene het ook "natuurlike vyande". Hulle moet behandel word teen roes, en is 'n gunsteling onder ystervarke, ape en bobbejane, wat 'n hele oes kan vernietig.
Pampoenranke moet op geen stadium beskadig word nie, want dit benadeel die groei van pampoene.
Daar moet dus met groot omsigtigheid geskoffel word rondom pampoene.
Kenner gee raad
Dr Naudé Malan van die Universiteit van Johannesburg is 'n kenner in die kweek van hierdie pampoene.
Hy beveel aan dat slegs kompos van natuurlike oorsprong - dus uit jou eie huishouding en tuin - vir die pampoene gebruik word.
"Plant ook gerus jou kompetisiepampoene in 'n goed voorbereide tuinsloot, waarin saagsels, bene, as, houtstukkies, natuurlike kompos, strooi en goeie grond gereeld natgehou word om die pitte maksimaal te laat ontwikkel," is Malan se advies.
"Verdunde urine en oorskiet rooibostee is ook puik vir optimale groei."
Pampoenpret met reusepampoene op Nieu-Bethesda.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’