CRADOCK-NUUS - Die skoolgemeenskap van die Cradock Voorbereidingskool sien elke jaar uit na die Johnnie Joubert- o. 9-sporttoernooi, wat op die uitgebreide sportterrein by die skool, tussen die pekanneutbome, aangebied word.
Die byeenkoms is jaarliks ’n hoogtepunt op die skool se sportkalender.
Wyle Johnnie Joubert was skoolhoof by die Cradock Voorbereidingskool, en hy kon hom in elke klein spelertjie se visie en missie op die rugbyveld inleef, en het ook dadelik opgedraf as daar ’n besering in enige van dié skool se spanne was.
Hy het die leerders geleer dat die grootste vreugde uit deelname kom.
Dié toernooi, wat sy naam dra, word reeds sedert 2010 by dié skool aangebied, en ouers, personeel en leerders dra 100% by tot die sukses van die dag.
Geen tellings van die wedstryde word op rekord gehou en beskikbaar gestel nie, want hierdie dag is net vir die pret!
Die sportvelde het lewendig geword met die energie, spanwerk en gees van die jong atlete.
Sewentien rugbywedstryde is gespeel, tesame met opwindende netbal- en hokkiewedstryde.
Die talent en sportmanskap wat deur elke span getoon is, was werklik inspirerend!
Die skole wat hierdie jaar kom deelneem het, was Carinus Primêre Skool van Michausdal, Laer Volkskool, Graaff-Reinet, Junior Primêre Skool van De Aar, Laerskool Fort Beaufort, Laerskool Gill, Laerskool Burgersdorp, Michausdal Laerskool, Visrivier Primêre Skool, Templeton Laerskool van Bedford en Laerskool WG Olivier van Somerset-Oos.
Die Cradock Voorbereidingskool bedank graag al die skole, afrigters, ouers en alle borge wat hierdie hierdie dag moontlik gemaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’