CRADOCK NUUS - Die museum van Hoërskool Cradock (CHS) is in 1972 begin en is na harde werk en talle geskiedkundige artikels, skilderye en foto's van al die oudskoolhoofde in die lewe gebring.
"Alles was in die boekekamer gestoor, maar dit was 'n baie beperkte ruimte," deel Charles Garth, voorsitter van die oudskoliere-unie mee.
"Gedurende 2018 het die destydse koshuisvader, Adolph Gouws, twee vertrekke in die seunskoshuis, wat vroeër jare die Voorbereidingskool was, en tans Huis Reinhardt is, beskikbaar gestel.
"Dit was 'n wonderlike voorreg om alles daar uit te stal," sê Garth. "Selfs hier het ruimte beperk geraak en die vertrekke was baie vol. Met die aankoms van Anthony Kitching, nuwe skoolhoof by CHS, het hy nog twee aangrensende vertrekke bewillig."
Deur die jare het verskeie oudleerders en fasiliteerders betrokke geraak as vrywilligers by die museum. Die eerste groot skuif is behartig deur Charles Garth en Juanè en Alrina Nortjé.
Met hierdie onlangse trek het Ruby Botha, fasiliteerder, alles reggepak, afgestof en nou is daar in daardie museum net geskiedkundige artikels van Boys High School (1870) en Rocklands Hoër Meisieskool (1875) en Handelskool.
Skilderye en foto's van al die oudskoolhoofde van Rocklands is nou teen die mure gehang. Botha is bygestaan deur personeellede, asook Charl Oosthuizen en Zelda Goosen, die OSB Voorsitter.
"Daar is voorwaar pragtige artikels, soos die ou koperpotte waarin koshuiskinders se etes voorberei is, selfs fyn porselein eetstelle wat in verlede by die skool en koshuis gebruik is. Daardie deel van die museum huisves nou alle artikels vanaf 1870 tot 1971.
Die vertrek waar die geskiedenis van drie hoërskole bewaar word. Foto's: Charles Garth
Langsaan gaan Hoërskool Cradock se museum nou ingerig word. Talle foto's en gelukbringers is reeds daar opgeneem. "Dit lyk baie mooi."
Charles Garth deel mee dat hy ook die Universiteit van Rhodes gekontak het, sodat alle artikels digitaal gemerk kan word.
'n Volledige besigheidsplan sal ook deur die studente opgestel word.
Wat hierdie museum uniek maak, is dat daar drie skole ge-inkorporeer is, wat in 1972 saamgesmelt het.
Alle oudsportmanne van die drie skole se geskiedenis is daar vasgelê, saam met gepaardgaande stories.
"Wat ons ook ingebring het, in die museum, is alle oudleerders wat hul hoogste offer gebring het, tydens die eerste en tweede wêreldoorloë en ook tydens die grensoorlog," sê Garth.
Van links is Charl Oosthuizen, Charles Garth en OSB-voorsitter Zelda Goosen, trots op dae se harde werk.
Uiteindelik hang die loodswaar skildery van Me. Withers (skoolhoof 1914), terwyl Charl Oosthuizen en Zelda Goosen help.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’